TZANEEN: Bejaarde inwoners van Pioniers voel onveilig

‘ONS wil nie kla nie, maar ons voel nie meer veilig hier nie, ons oumense sit dag in en dag uit met ‘n toedeur.’

So vertel een van die bejaarde inwoners van Pioniers in Draaistraat.

Letaba Herald het daar gaan draai na verneem is dat die inwoners onveilig voel.

‘Ons bly heerlik maar ons voel onveilig, hier is iemand wat gereeld hier rondwaal wat weet wat hier aangaan,’ vertel een van die inwoners.

Een van die bejaardes het vertel dat sy ongeveer twee weke gelede besig was om beskuit te bak in die kombuis. ‘Iemand moes hier ingekom het sonder dat ek hom sien, toe ek later my twee fone soek was dit skoonveld.

Daar was een in die kamer en een in die sitkamer,’ vertel sy. Volgens haar het sy niks gehoor of gesien nie.

Die veiligheidsmuur wat nooit deur die munisipaliteit voltooi is nie.

 

‘Dit is skrikwekkend,’ het sy aan Letaba Herald gesê.

In ‘n ander geval het ‘n bejaarde se dogter haar onlangs een Sondagaand na kerk van die hek begelei tot by haar huis.

‘Die volgende oomblik spring daar ‘n man agter die bosse uit, stamp haar uit die pad en gryp haar handsak,’ vertel sy. Die hekke is gesluit, maar volgens haar moet hulle oor die palissade klim.

‘Die munisipaliteit het ‘n ruk gelede aan die eenkant van die Pionierpark ‘n heining begin bou, maar dit blyk dat bouery daar laat vaar is. Alles is net so gelos.’

Die oprit na die motorhuise kort ook dringend aandag by die park.

 

Daar is huidiglik geen heining nie, en dit wil voorkom asof dit een van die toeganspunte is vir onwelkome elemente.

‘Een aand so teen skemer toe sit ek en my vriendin so en gesels toe sê sy hier het iemand nou net verby jou kamer venster geloop. Die volgende oomblik toe loop hy voor my huisie verby. Ek het op om geskreeu, en hy is hier agter om en het laat spaander en oor die muur gespring.’

Sy is onseker of dit dieselfde persoon is, wat telkens daar gewaar word.

‘Ek weet nie of dit iemand is wat ons dophou nie.’

Die inwoners het nie een van die gevalle by die polisie aangemeld nie . ‘Ons het paniek knoppies vir ‘n sekuriteits maatskapy, maar teen die tyd dat hulle hier aankom is die verdagtes reeds weg.’ Die inwoners betaal nie vir die diens nie, en volgens haar is dit ‘n gemeenskaps inisiatief wat die kostes dra, waarvoor hulle dankbaar is.

Nog ‘n groot kopseer is die min ligte op die terrein in die aand.

‘Daar is tuinligte, maar die bome se takke word nie weg gesnoei om meer lig te gooi nie. Die boonste lig het iemand ook uit gery, en dit is nou nog nie vervang of reggemaak nie. Hulle (GTM) het die paal kom haal, en ons het hulle tot dusver nie weer gesien nie.

Daar is wel nog ‘n straatpaal wat lig verskaf, maar volgens haar werk hy die meeste van die tyd nie Die paadjies wat die huisies verbind en deur die tuin gelê is kort ook dringend instandhoudings werk.

Volgens haar is dit die munisipaliteit se verantwoordelikheid, want hulle betaal huur aan hulle. Die huur is ‘belaglik min’, en voel sy, hulle is soms te bang om te kla oor die basiese, want hulle is bang die huur word drasties verhoog.

‘In die agt jaar wat ek hier bly is die huur nog nooit verhoog nie. As hulle nou regtig die huur wil verhoog, sal ons seker nie omgee nie, maar dan wil ons sien dat daar diens gelewer word.’

Die huisies het wel voorafbetaalde kragboksies wat die munisipaliteit verskaf het, en daarvoor is hulle baie dankbaar.

Hulle het hulle al gewend tot die munisipaliteit, maar volgens die inwoner moet hulle gewoonlik ‘n brief skryf as hulle ‘n klagte het, maar dit blyk op dowe ore te val en van die klagtes kom dadels.

‘Hulle kom net nooit na ons toe terug nie.’ Letaba Herald het deur die terrein gestap, en die tuin is goed versorg, maar van en die klagtes is nie onnodig nie. Die stap-paadjies kort beslis aandag, en as in ag geneem word dat daar bejaardes is wat afhanklik is van loopstokke en rolstoele moet daar beslis aandag aan gegee word.

Die hekke se slotte is ook afgeroes, en slegs kettings met slotte sluit snags die hekke.

‘Elektriese hekke sal regtig ‘n bonus wees,’ het die inwoner gesê.

‘Dit is regtig gevaarlik om hier stil te hou, en dan uit jou motor te klim en dan te sukkel met ‘n slot, mens weet nie wie hou jou dop nie.’ Die inwoner het dit duidelik gemaak dat sy praat namens die 12 Pioniers huisies in Draaiweg.

‘Ons doen asseblief ‘n beroep op die munisipaliteit om net ons paadjies, heinings en ligte instand te hou.’

Indien van die gemeenskap betrokke wil raak by enige aspek soos genoem in die artikel, skakel Bertus de Bruyn op: 071 195 4709

Exit mobile version