Editor's choiceMunicipalNews

TZANEEN: Krag probleme het inwoners nou krag-en-moedeloos

‘VIR twee dae word daar aan ons gesê, ons krag sal aan wees oor twee ure...dan kom hulle met ander stories. Ek gaan al my skade eis van die munisipaliteit.’

So lui een van die WhatsApp boodskappe, en Saterdag, 22 April het inwoners gevoel genoeg is genoeg!

Inwoners van Ledzee, Mieliekloof, Fonteinplaas en Tarentaalrand het Saterdag opgeruk na die kragstasie in ‘n vreedsame ‘protes’ om hulle misnoë oor die kragprobleme te bespreek en uit te vind waarom hulle krag sedert Desember meer af as aan is.

‘Ons voel dat daar ‘n doelbewuste poging is om krag van ons te weerhou,’ het Dirk Joubert aan Letaba Herald gesê.

Die handjie vol inwoners het Saterdagoggend voor die munisipaliteit bymekaar gekom en gewag vir antwoorde na die soveelste WatsApp, en hulpkrete om krag te herstel nadat van hulle reeds twee dae, sedert die aanvang van Paasnaweek, sonder krag.

Die groepie is egter toegang tot die kragstasie geweier.

Op een spesifieke kraglyn in die Mieliekloof omgewingwas die woongedeelte tussen 7 Januarie en 29 Maart 113.62 ure sonder elektrisiteit. Michelle Els, eienaar van Zabanna restaurant het groot skade opgedoen weens die krag onderbreking.

‘Al my bederfbare items is gemuf. Ys het gesmelt. Een yskas het so gestink, ek het hom maar net weer toegemaak,’ het Els aan die Herald gesê.

Sy het nog nie die waarde bepaal van die verlies nie, maar dit kan duisende beloop.

Dit blyk asof die WhasApp groep wat inwoners gestig het, juis om kommunikasie met die kragstasie en ander rolspelers te vergemaklik op dowe ore val.

‘Hulle smeer hulle af aan ons, ons is meer sonder krag as met krag,’ het een van die inwoners gesê.

SAAMSTAAN: Die groep wat Saterdag by die kragstasie bymekaar gekom het om antwoorde te kry en hulle misnoë uit te spreek teen die krag situasie. Voor: Francois Alberts en Michelle Els. Agter: Tony Long, Carel van der Grijp, Dirk Joubert en Charlene de Beer, Albert Alberts, Dirk Joubert en
Juan de Beer.

Instandhouding en nalatigheid blyk een van die grootste probleme te wees op die kraglyne.

Op Goeie Vrydag was daar blykbaar ‘n fout op die hooflyn waar bome glo op die kraglyn lê, maar weens digte mis kon inspeksie nie plaasvind nie. Daar is wel op die groep bevestig dat die hele omgewing met kragprobleme sit. Letaba Brandwag, ‘n plaaswag-groep in die omgewing, wat ook al vele bystand verleen het op ongelukke op die R71 en plaasaanvalle in die omgewing, het aangedui dat hulle ‘n regs-aksie teen die Groter Tzaneen Munisipaliteit begin het.

‘Die feit van die saak is, dat as die krag af is ons veiligheid in gedrang. Batterye kan nie herlaai nie, elektriese heinings raak nutteloos. Die probleem kring verder uit as net die krag wat af is. Die feit dat ons nie kan water pomp nie veroorsaak probleme met van die boere se oeste,’ sê Joubert.

Die inwoners voel dat die GTM se bestuur nie bevoeg is om die elektrisiteits instandhouding te doen nie.

Duidelike tekens dat bome die kragdrade toegroei.

‘Ons wil weet waar is die begrote fondse vir die vervanging van transformaters en nie net die herstel daarvan nie. Dit het soos alles ‘n leeftyd en moet vervang word en sodoende is die Ledzee substasie totaal tot niet- waarheen is dit?’

Dit is is een van die vrae wat die groep beantwoord wil hê. Dit is duidelik in fotos wat aan Letaba Herald verskaf is dat onderhoud op die lyne nie gedoen word nie. Boomtakke wat deur lyne groei en kragpale is afgevrot. Een van die groot knelpunte is dat pakhuise binnekort in ons omgewing begin operasioneel raak, en die winterseisoen breek aan.

Krag sal dan nog minder beskikbaar wees. Die groep waarsku die munisipaliteit in ‘n duidelike maar harde nood-kreet.

‘Ons gaan die munisipaliteit vir ’n strafbare oortreding dagvaar sou hierdie foute ontaard in enigiets meer ernstig soos ’n persoon wat doodgeskok word of ernstig beseer word indien ’n lyn of paal sou omval. Daar is reeds menige wild wat gevrek het weens die GTM se nalatigheid. Sou dit ook gebeur dat die lyne die veld aan die brand steek kan hul maar verseker weet dat ons alles in ons vermoë sal doen om ernstige stappe te neem,’ luidens Joubert.

Indien daar gebiede is wat ons hulp nodig het om ‘n plaaswag op die been te bring, skakel gerus die voorsitter van Letaba Brandwag, Carel van der Grijp op: 081 501 6696 of Dirk Joubert op: 073 377 4622.

Related Articles

Back to top button