Local newsNews

Hoedspruit: Verkeersprobleme word bespreek

Die Hoedspruit Dorpswag het die huidige verkeersprobleme in Hoedspruit aangespreek en is positief dat daar oplossings gevind kan word.

Daar is verskeie briewe van Johan Potgieter, die voorsitter van die dorpswag, aan die hoof van verkeer van die Maruleng Munisipaliteit, Tau Mogoboya, gestuur.

Daar sal aandag gegee word aan die volgende: Taxis wat die Spar ingang as parkeerplek gebruik, verkeer blokkeer en die uitsig belemmer van voertuie wat uit die parkeerterrein wil ry.

Die fotos, wat aan Mogoboyo gestuur is, wys duidelik hoe taxi-bestuurders onwettig op die ryvlak teen aankomende verkeer parkeer en op ‘n onveilige en gevaarlike manier die gebied verlaat.

Ook op die agenda is motoriste wat nie in die aande by stoptekens stop nie.

In ‘n ander brief word die Maruleng Munisipaliteit versoek om fondse beskikbaar te stel sodat verkeersbeamptes na ure diens kan doen. Dit is juis nodig aangesien sommige bestuurders nie die padreëls na ure nakom nie.

In die verklaring word genoem dat die stopstraat by Kamogela ‘n groot probleem is en geïgnoreer word.

Totdat die probleem opgelos word, word motoriste en voetgangers wat in die aand in die gebied beweeg, gemaan om baie versigtig te wees.

Verder word die gevaarlike ingang by NTT Toyota en Lewende Water Kerk ook aangespreek.

Daar is versoek dat daar dringend aandag gegee moet word om die ingang tot die Ohrigstadpad vanaf die twee persele, te beveilig.

Die voorstel is om ‘n verkeersirkel op te rig om die verkeersvloei te beheer.

Die huidige situasie skep ‘n gevaarlike toestand vir motoriste wat uit die persele wil ry.

Laaste op die agenda is geraasvlakke in die dorp as gevolg van motorfietse.

Die dorpswag kry voortdurend klagtes rondom die geraas.

Wetstoepassing word versoek, maar motorfietsryers word ook versoek om asseblief te let op, die moontlikheid dat die motorfiets geraasbesoedeling kan veroorsaak en dit so te bestuur dat geraas tot die minimum beperk word.

Potgieter het versoek dat meer mense in die dorp betrokke raak en wys hulle gee om.

“Hoe meer mense betrokke raak, hoe makliker word dit om probleme op te los,” sê Potgieter.

Hy bedank ook graag Mogoboya vir sy positiewe gesindheid en sy hulpvaardigheid om probleme op te los.

Terugvoer sal tydens die Hoedspruit Dorpswag se vergaderings gegee word.

Enige lid van die publiek kan die vergadering bywoon indien terugvoer verlang word.

Vir meer inligiting skakel die sekretaresse, Marie Helm op 082 683 2835.

 

Related Articles

Back to top button