Local newsNews

TZANEEN: Rede vir paniek soos oop grond vir grafte al hoe minder raak

‘Ou grafte in ou dorps begraafplase sal opgediep word en oorblyfsels (indien enige) sal dan in boksies in 'n herinneringsmuur geplaas word met ‘n grafnommer teen aan die muur aangebring word.'

Inwoners van Tzaneen het rede tot paniek want oop grond vir grafte raak al minder by die begraafplaas met sowat slegs 30 grafte wat beskikbaar is.

‘Ek weet nie wat die munisipaliteit se plan is nie, maar mense raak paniekerig,’ het ‘n begrafnisondernemer aan Letaba Herald gesê.

Volgens hom is daar al in 2005 grond geteiken vir die nuwe deel van die begraafplaas, maar die grond is nog steeds nie ontwikkel nie.

Letaba Herald het verlede week berig dat ‘n omgewingsimpakstudie deur Polygon Omgewingskonsultante uitgevoer word en dat Mushumo Ingenieurs glo aangestel is om te begin met konstruksie van die nuwe pad en brug oor die vleiland wat sal lei na die nuwe begraafplaas.

Dit is 12 jaar later. 12 jaar te laat, nou word daar geskarrel.

Baie grafte in die huidige Tzaneense begraafplaas is glo tussen 8 en 9 voet wat dit moontlik maak vir twee kiste, het hy vertel.

Lees ook: TZANEEN: Begraafplaas amper vol, wat nou?

Volgens die ondernemer word daar tans na baie metodes gekyk om te begrawe.

Een van die opsies wat bespreek is tydens ‘n onlangse konferensie wat hy bygewoon het, is om in die toekoms familiegrafte beskikbaar te stel, vir ‘n gemiddelde gesin van vier/vyf.

‘Families sal in fases begrawe word,’ verduidelik hy. ‘Die kis sal nog steeds horisontaal laat sak word, maar dan weer vertikaal gehys word. Sement sal dan die grafte van mekaar skei, ‘n tipe domino pak-effek,’ het hy vertel.

Hy twyfel egter of dit sal realiseer omrede nuwe toerusting daarvoor ontwerp sal moet word, en dit ‘n baie duur proses kan wees.

‘Al hoe minder grond is deesdae beskikbaar vir begraafplase, ek weet van een dorp in Natal waar grond aan hulle toegestaan is vir ‘n begraafplaas en dit was binne ‘n jaar beset. Nou is daar nie grond beskikbaar vir ‘n nuwe begraafplaas nie,’ sê hy.

Die ou begraafplaas in Tzaneen wat goed deur die munisipaliteit instand gehou word. Letaba Herald verneem ook dat daar onlangs bome geplant is deur AfriForum Solidariteit Helpende Hand.

Daar word glo ook gekyk om oop spasies tussen grafte te benut op bestaande begraafplase vir nuwe grafte sowel as om ou ‘bespreekte’ grafte in begraafplase ouer as 150 jaar te gebruik.

Dit is egter ‘n probleem om families op te spoor wat die grafte wil of kan gebruik.

Nog ‘n opsie waarna gekyk word is om ou grafte te herwin, volgens hom.

Massagrafte, soos hy dit noem, in die vorm van ‘n herinneringsmuur is ook een van die opsies wat bespreek is.

‘Ou grafte in ou dorps begraafplase sal opgediep word en oorblyfsels (indien enige) sal dan in boksies in ‘n hernneringsmuur geplaas word met ‘n grafnommer teen aan die muur aangebring word.’

Hy twyfel sterk of dit sal realiseer weens wetgewing wat dit baie moeilik sal maak.

Tzaneen se begraafplaas wat sowat 30 oop grafte beskikbaar het.

‘Hierdie is maar net voorstelle waarvan ons hoor, ons is nie seker of dit van munisipale of regeringsvlak voorgestel is of toegepas gaan word nie.’

Hy voer aan dat die nuwe gedeelte van die begraafplaas volgens sy skatting moontlik tussen 200-400 grafte sal bevat. Sterftes het glo die afgelope paar jaar afgeneem, en dit help verduidelik hy.

Hy skryf die afname toe aan lewensstandaarde wat verbeter het, sowel as voorsorg maatreëls en medikasie wat beskikbaar is wat lewens verleng soos in die geval van HIV.

‘Daar is plek in die huidige begraafplaas waar nog grafte gegrawe kan word. Die probleem is die watervlak is te naby. As jy ‘n graf grou is dit binne minute vol water. Al hoe meer persone, ongeveer 90% veras deesdae hulle geliefdes. Inwoners moet kennis neem dat grafte nie meer bespreek kan word nie. My raad aan mense is om te kyk na die opsie, maar dit is op die einde van die dag die familie se besluit’

Hy verduidelik verder dat families ingedagte moet hou, dat die omsien van begraafplase nie meer as prioriteit gesien word nie en veiligheid en sekuriteit is ook ‘n groot probleem.

‘Ons is egter bevoorreg in Tzaneen, ons begraafplaas word mooi onderhou.’ ‘Ek is maar skepties oor wat die nabye toekoms gaan inhou as die GTM nie daadwerklik iets doen en ‘n plan gemaak word nie.’

Tzaneen se Begraafplaas.

‘Daar is nog mense wat aandring op ‘n tradisionele begrafnis, en dit is hulle volle reg. Maar die realiteit moet ook ingedagte gehou word. My antwoord aan hulle is gewoonlik bloot eenvoudig, dis reg meneer, sê my net waar? Ons sal op die ou einde van die dag moet oorgaan om mense te begin forseer om te veras.’

Hy stel ook voor dat mense met plase eerder ‘n familie begraafplaas oprig.

Maar dit blyk ook net so groot adminastratiewe rompslomp te wees.

Lewer gerus kommentaar onder aan die artikel.

HAVE YOUR SAY

Like our Facebook page and follow us on Twitter-@Letabaherald

Related Articles

Back to top button