MunicipalNews

Tzaneen Swembad Saga: Eers oop…nou dolleeg!

Tzaneen se ‘nuwe' multimiljoenrand munisipale swembad se prop is uitgetrek en is dolleeg.

Letaba Herald het sedert die amptelike opening van die spog opgeknapte swembad met kristalhelder water kort-kort daaroor berig.

Die versekering is toe reeds gegee dat die swembad uiteindelik teen einde September vanjaar oop sou wees vir die publiek. Dit blyk duidelik nie die geval te wees nie.

Want die swembad is leeg getap.

Die swembad saga speel af soos ‘n sepie se eindelose episodes…die beloftes hou nie op nie, en die gelukkige einde, al dan nie, blyk nie insig te wees nie.

Dit kan dan ook nie anders nie as om herinner te word aan die ou volksliedjie, so bietjie verwerk natuurlik na, ‘Amptenare moet nie met die water mors nie, Tzaneeners wil daarin swem’.

Die Herald wil nie die baba saam met die badwater uitgooi nie. Maar skynbaar herhaaldelike ‘leuens’ en leë beloftes maak skuld. Die Groter Tzaneen Munisipaliteit (GTM) skuld die gemeenskap nou ‘n eerlike antwoord oor die stand van sake.

Die swembad is leeg getap glo weens 'n lekasie na beloftes dat Tzaneeners die somer sou kon lyf natmaak. Foto: Bertus de Bruyn
Die swembad is leeg getap glo weens ‘n lekasie na beloftes dat Tzaneeners die somer sou kon lyf natmaak. Foto: Bertus de Bruyn

Dit het immers die belastingbetalers R11miljoen gekos om die oase na jare weer op te knap, soos berig in die Letaba Herhald in November 2015.  Die opening van die swembad was in daardie stadium onbepaald uitgestel en is daar aangevoer dat dit weens ‘n gebrek aan lewensredders was.

Die ‘Swembad-sepie’ het min of meer, tot op datum soos volg verloop:

Die Herald berig op 1 Oktober 2015 dat die ‘amptelike’ opening van die swembad sou plaasvind op die Saterdag, maar dit uitgestel is weens ‘n lekasie in die swembad.

Ons word vertroulik ingelig dat die berugte ‘wit olifant’ teen ‘n koste van R7 miljoen oorgedoen is om die dienste van ‘n ander kontrakteur aan te stel om die opknappings werk oor te doen.

Neville Ndlala, media woordvoerder van die GTM ontken die aantygings, en voer aan dat die uitstel van die opening verband hou met die feit dat daar nog nie lewensredders aangestel is nie.

Die lint word geknip tydens die amptelike opening in 2015.
Die lint word geknip tydens die amptelike opening in 2015.
Amptenare van die GTM saam opgewonde kinders tydens die opening in 2015
Amptenare van die GTM saam opgewonde kinders tydens die opening in 2015

12 November 2015 berig die Herald dat die swembad steeds nie oop is vir publieke gebruik nie en inwoners is warm onder die kraag.

Die opknapping is voltooi, maar Tzaneeners kan nie gaan afkoel nie weens ‘hakplekke’ Vutivi Makhubele, van die GTM het toe die versekering gegee dat die swembad, ‘hopelik hierdie jaar (2015) oop sal wees, maar daar is geen datum vasgemaak nie.’

Die rede vir die oponthoud is nie duidelik nie. Makhubele het toe aangevoer dat daar logistieke kwessies was wat eers uitgesorteer moes word en niemand kon sê hoe lank dit sal neem nie. Die hoofrede wat weer opgeduik het, is die gebrek aan lewensredders.

Op 14 November 2015 publiseer die Herald ‘n brief van in inwoner. ‘n Uitreksel van die brief lui: “…so bevind ek myself verlede week voor die geslote hekke van die Tzaneen Munisipale swembad. Op ‘n snikhete Tzaneen middag drentel ek van my kar af na die swembad se ingang toe.

Net om uit te vind die swembad is steeds nie oop vir die publiek nie.

Hoe is dit moontlik? ‘n Maand gelede is vir ons as inwoners gesê die swembad is reg, hulle kort net lewensredders.’

Waar is die lewensredder.
Waar is die lewensredder.

21 November publiseer Letaba Herald die berig ‘Dalk lig aan die einde van die tonnel.’

In die berig het Neville Ndlala, aangedui dat die swembad voor die einde van die maand (November) vir die publiek oop sou wees.

‘n Gebrek aan lewensredders word weer en weer as verskoning vir die burokratiese rompslomp, want volgens Ndlala bestaan daar nie ‘n posbeskrywing vir ‘n lewensredder in die GTM se organogram nie.

Ndlala beweer egter dat die probleem in die proses is om opgelos te word. Gerugte begin die ronde doen oor moontlike ‘ander’ redes waarom die swembad nog nie oop is vir die publiek nie.

Een hiervan was glo ‘n elektriese ‘uitdaging’ wat tydens ‘n skole swemgala opgemerk is.

“Die elektriese uitdaging wat ons by die swembad ervaar het was ‘n nietigheid en is reeds uitgesorteer,” het Ndlala gesê.

Gerugte dat die swembad lek is ten sterkste deur Ndlala ontken. Geskille oor salarise wat die GTM met die unie gehad het was ook on opgelos. En dit het glo die aanstel van lewensredders bemoeilik.

Dit het belowend gelyk. Foto November 2015.
Dit het belowend gelyk. Foto November 2015.

26 November 2015:

Die opening van die swembad word deur die burgemeester van Tzaneen, Dikeledi Mmetle geopen. Maar die swembad is steeds nie oop vir lede van die publiek nie.

‘n Gebrek aan opgeleide lewensredders blyk steeds die probleem te wees.

Volgens Cassius Machimana, Speaker van die Raad, gaan die GTM mense van Durban af bring om plaaslike mense op te lei as lewensredders.

Intussen berig ons dat skole en groepe mense welkom is by die swembad, mits hulle hul eie lewensredder saamneem.

Volgens Machimana, was dié besluit geneem om regsaksies te vermy, sou iemand iets oorkom in die swembad met geen lewensredders byderhand nie.

Werkers vat weer 'n ruskans in November 2015. Maar die hekke bly gesluit vir die publiek. Foto November 2015
Werkers vat weer ‘n ruskans in November 2015. Maar die hekke bly gesluit vir die publiek. Foto November 2015

14 Januarie 2016:

Na talle beloftes van die Munisipaliteit, is die swembad steeds nie oop nie, berig die Herald en inwoners kan steeds nie gaan lyf natmaak nie.

Die probleem? ‘n Gebrek aan lewensredders!!

Na herhaalde pogings vir kommentaar laat weet Ndlala, dat daar geen verandering sedert Desember plaasgevind het nie en dat die GTM steeds wag vir mense om van Ethekwini af te kom om lewensredders op te lei. Die vraag onstaan: Kan niemand in die hele Limpopo provinsie die opleiding doen nie?

Hoe is dit moontlik dat ‘n multimiljoenrand projek soos hierdie deur iets eenvoudigs soos ‘n gebrek aan lewensredders gedwarsboom kan word?

Ndlala laat weet: ‘Ons sal die publiek inlig sodra die swembad oop is.

Enigiemand met spesifieke vrae kan die GTM self kontak vir meer duidelikheid in hierdie verband. “Ons kan nie ‘n tyd maak nie aangesien die opening van die swembad afhang van ‘n verskeidenheid van faktore wat nie noodwendig deur ons beheer word nie. Die GTM vra omverskoning vir enige ongerief wat deur die situasie veroorsaak word.’

20 Junie 2016:

Weer berig Letaba Herald oor ‘n belofte’ dat die swembad teen einde September vir die publiek oop sal wees.

Na die ‘openings-geleentheid’ in 2015 het Ndlala in epos gesprekke aangedui dat die proses nie langer as drie maande sou duur nie. Maar later bereik die woord Letaba Herald se oor dat ‘n evaluasie gehou is om die regte GTM personeel te probeer identifiseer, met geen goeie nuus aan die anderkant nie. Volgens die evaluering was nie een van die GTM se aspirant lewensredders  behendige swemmers nie en moes hulle basies van voor af leer swem voor hulle verder in lewensredding opgelei kon word.

“Ek sal julle laat weet wanneer daar nuus oor die swembad en die lewensredders is…” het Ndlala in Januarie aan die Herald gesê.

September staan einde se kant toe en daar is steeds geen verandering in die stand van sake nie.  Buiten dat Ndlala se drie tot ses maande, geskuif het tot September, is hy aangehaal  dat die swembad nou eers teen die volgende swemseisoen swemgereed sal wees.

Munisipale werkers het die swembad skoongehou al kon niemand daarin swem nie. Foto geneem in Junie vanjaar.
Munisipale werkers het die swembad skoongehou al kon niemand daarin swem nie. Foto geneem in Junie vanjaar.

En nou?

Nou is die swembad dolleeg en dit is September!

Letaba Herald het gaan ondersoek instel en vasgestel dat die swembad leeg getap is. Die kinderswembad is lowergroen van alge. Regs van die swembad by een van die  kragpale is grond uitgrawings.

Die kinderswembad is nou lowergroen na die 'amptelike opening in 2015.
Die kinderswembad is nou lowergroen na die ‘amptelike’ opening in 2015.

Terloops, die tuine lyk redelik netjies versorg en teen 13:16 het ses werkers, waarvan een ‘n GTM oorpak hemp gedra het, gesit en kaart speel by een van die rusbankies. Gegewe die tyd, was dit seker hulle middag ete. Sekerlik dan ook hulle goeie reg.

Wat nie reg is nie, is die leë beloftes en die  leuns.

Kaartspeel? Middag ete breek?
Kaartspeel? Middagete breek?

Hoekom is die water uitgetap?

Wat as die bodem van swembad met Tzaneen se hitte nou weer begin verweer?

Waarheen en hoe is die water aangewend wat uitgetap is? Neem dit ses werknemers om die tuine elke dag instand te hou vir ‘n terrein wat glad nie besoek word nie? Die gemeenskap soek nou ‘n eerlike en reguit antwoord.

Wat is die oponthoud? En wanneer gaan die swembad finaal sy hekke oopgooi vir die publiek om te geniet.

‘n Eerlike en reguit antwoord.

Wat gaan aan?

Dit is al.

Nie leë beloftes en swak verskonings nie. Want dit beteken, net soos ‘n leë swembad, net mooi niks!

Doeloos!

‘Amptenare moet nie met die water mors nie, want Tzaneers wil nou begin swem’.

Foto gallery:

Vir die GTM se kommentaar, klik op: Swimming pool empty because of leak


Related Articles

Back to top button