Local newsNews

Bekende ‘Oom-Ben’ vier 80 lewensjare

Die bekende en geliefde inwoner van Tzaneen, Ben Breytenbach het onlangs 80 lewensjare gevier.

Sy dogter, Elske Breytenbach, het die volgende saamgestel:

Barend Gerhardus Breytenbach is op 11 Augustus 1936 in Duiwelskloof, as die oudste lewende seun van Hendrik en Franci Breytenbach, gebore. (Hulle oudste seun is oorlede aan malaria twee jaar voor my pa se geboorte.) Hy word groot in die Letaba distrik en vestig hom uiteindelik in 1958 op Deerpark, waar hy vandag nog woon. Hy is getroud met my ma, Jeanette, op 27 Desember 1958. Sy is in Maart 2015, na ‘n huwelik van amper 57 jaar, oorlede.

Hy was vir baie jare, saam met my ma, aan die stuur van die Hervormde Kerk se bejaardesorg. Hulle begin met die wildtuintoer vir bejaardes is 1983, en die toer gaan nog steeds elke jaar volstoom voort. Nou is hy elke jaar net ‘n gas!

11 Augustus 2016, vier hy sy 80ste verjaarsdag. Die naweek van 12-15 Augustus, kom 47 van sy familie en vriende by die Eiland bymekaar vir die groot makietie.

Die naweek was vir hom baie besonders te danke aan ‘n klomp dinge. Nie net was al sy kinders, kleinkinders en agter kleinkinders daar nie, maar ook sy twee broers.

Hy was ook baie trots op sy twee agterkleindogters, Elsje(7) en Jeanri (5) wat baie bygedra het om die naweek vir hom besonders en lekker te maak. Hulle het al die kleinkoekies vir die naweek gebak, en Elsje het ook sy verjaarsdagkoek gebak en versier. Sy het selfs ‘n klein toesprakie gemaak voor al die gaste.

Ons het so baie om voor dankbaar te wees. So baie mense het bygedra om die naweek ‘n sukses te maak, en ons kan niemand uitsonder nie. Ons is egter ons Hemelse Vader baie dankbaar dat hy pappa/oupa Ben juis vir ons gegee het. Ons kon nie vir ‘n beter pa/oupa/oupagrootjie gevra het nie.

(Mag ek noem dat sy oumagrootjie 100 jaar, 4 maande en 1 dag oud geword het? So ons kan hoop dat ons hom nog vir so 20 jaar of meer saam met ons kan hê.)

Ons gebed is egter dat, maak nie saak hoe lank hy nog vir ons gespaar sal bly nie, hy gesonde en geseënde jare sal hê.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button