Vossies is Limpopo kampioene

Die Hoërskool Ben Vorster se eerste en O/16A-rugbyspanne het die verlede naweek onderskeidelik met PHS en Frikkie Meyer afgereken om sodoende as Limpopo kampioene uit die stryd te tree.

Wat die eerste span se oorwinning ekstra soet gemaak het, was die feit dat die matriekgroep van 2016 nog nooit ‘n wedstryd teen PHS kon wen nie.

As O/14’s, O/15’s en O/16’s het hulle meer as een keer teen PHS verloor en het hulle ook vroeër vanjaar, tydens die Classic Clash, teen PHS verloor.

Die Vossies was egter gemotiveerd om geskiedenis te maak tydens die Limpopo finaal.

Die kaptein, Stefan Engelbrecht, druk ‘n drie sekondes na PHS se eerste afskop danksy ‘n afstorm. Die skrumskakel, Eduan Smit, het die drie verwyf om die telling 7 – 0 in die Vossies se guns te maak.

Hierna het Hoërskool Ben Vorster gewys dat hulle nie van plan was om te gaan lê nie en het hulle agressief verdedig.

Met die flank, Ruben Koekemoer, en agsteman, JJ Anker, aan die spits het hulle keer op keer verhoed dat die bal PHS se losskakels bereik.

Die knap spel van die voorry het gesorg vir die tweede drie van die wedstryd met JJ Anker wat oor die lyn beur.

Smit vervyf weer die drie. Die Vossies het op die aanval gebly en kort voor lank het die loskakel, Danny Mokhoabane, soos ‘n warm mes deur botter gegly om onder die pale te gaan druk.

Smit het weereens geslaag en met halftyd was die Vossies 21-0 voor.

Die tweede helfte het egter nie goed vir Hoërsklool Ben Vorster begin nie. PHS het twee drieë gedruk om die telling 21 – 14 te maak.

Die Vossies het egter teruggeveg en Eduan Smit het agter die doellyn vir nog ‘n drie, wat die telling tot 26 – 14 gebring het, gaan kuier.

PHS het in die doodsnikke van die wedstryd nog ‘n drie gedruk en so gesorg vir ‘n naelblyt laaste vyf minute. Met tyd verstreke het PHS ‘n lynstaan sowat 10 meter van die Vossies se lyn gekry.

Die Vossies se slot, Ruben Jordaan, het egter die lynstaan briljant gelees en die bal in die lug gesteel en die bal is uitgeskop. Die eindfluitjie het geblaas en die Vossies is as die nuwe Limpopo kampioene, met die eindtelling 26-21 gekroon.

Danny Mokhoabane is as “man of the match” aangewys.

Die Vossies se O/16-span het ook hulle Limpopo finaal gewen met ‘n telling van 19-3.

Hulle het teen Frikkie Meyer te staan gekom. Die O/14-span kon nie uit die blokke kom nie en na hul gemaklike oorwinning oor PHS, vroeër die jaar, was hulle nie suksesvol nie. Hulle het die wedstryd 14 – 21 verloor.

Die drie spanne van die Hoërskool Ben Vorster speel op 20 Julie vir die Virseker/Beeld-Trofee.

Die Eerste span pak Transvalia in Vanderbijlpark aan, die O/16’s kom te staan teen Dr Malan in Meyerton en die O/14’s speel op hul tuisveld teen Midstream College.

Exit mobile version