Phala inwoners woedend na seekoei-slagting

WAARSKUWING: GRAFIESE BEELDMATERIAAL

Inwoners van Phalaborwa is woedend, en meer vrae as antwoorde doen die ronde nadat nog ‘n seekoei in dié dorp geskiet is.

Dit bring die getal neer op drie seekoeie, wat sedert einde Maart dood in die dorp se strate gevind is.

Einde Maart is die eerste dier na bewering deur Natuurbewaring agter Spar doodgeskiet (soos berig deur die Herald van 1 April).

Karkas van die tweede seekoei wat geskiet is.

Die Herald kon nie daarin slaag om ‘n verduideliking hiervoor by Natuurbewaring te kry nie.

Die tweede seekoei is op 14 Julie geskiet.

Die Phalaborwa Herald het ‘n video van die gebeure vanaf ‘n anonieme bron ontvang:

Die huis in die agtergrond van die video is gevind en ‘n getuie is opgespoor.

Volgens dié getuie (‘n onderwyser van die dorp, wie se identiteit aan die Herald bekend is,) is daar op die betrokke aand gehoor dat die honde vreeslik blaf en daar is ondersoek ingestel.

‘n Bonkige ‘figuur’ het in die donker gelê en daar  is nader gestap. Die ‘figuur’ is as die van ‘n seekoei herken.

Volgens die Herald se bron was daar die volgende oomblik voertuie wat op die toneel aangejaag gekom het. Onder andere ‘n wit bakkie asook ‘n voertuig, glo die van die Verkeersdepartement.

Die karkas van die seekoei wat by Sefapane Lodge afgeneem is deur ooggetuies.

“Die een man het aanhoudend vir my geskree om terug te gaan in my huis, en dat ek nie so naby aan die dier mag kom nie, aangesien dit gevaarlik kan wees, toe klap die skote! Die seekoei is geskiet, met ‘n tou om die nek vasgemaak, en onder die bos voor my erf, van die sypaadjie af in die straat afgesleep met die bakkie en die verkeersvoertuig (met sy blou ligte aan) agterna,” het die getuie aan die Herald vertel.

Verskeie inwoners het volgens inligting, verby die voertuie gery terwyl die bakkie onder verkeersbegeleiding die dooie seekoei deur die dorp gesleep het.

Die voertuie is gevolg tot by die grond oorkant Sefapani Lodge. Dié stuk grond behoort glo ook aan Sefapani. Die nuutste voorval het Vrydag (22 Julie) buite die dorp plaasgevind.

‘n Seekoei is langs die Micapad dood gevind. Hierdie keer kon die Herald nie daarin slaag om getuies op te spoor nie. Volgens inligting wat die Herald verkry het, kan ‘n seekoei nie bloot van kant gemaak word wanneer mense besluit dit is ‘n probleemdier nie.

Die derde seekoei wat in die Phalaborwa omgewing geskiet is. Hierdie keer langs die Micapad. Die karkas is glo net daar gelos.

Persone wat met so ‘n dier sukkel moet eers by Natuurbewaring aansoek doen vir ‘n probleemdier-permit voor daar opgetree kan word.

Sover die Herald  kon vastel,  is geen probleemdier-permitte van enige van die drie seekoeie uitgereik nie.

Die seekoei wat in Maart agter Spar geskiet is.

Enige inwoner met meer inligting kan dit epos na: bertus@ herald.co.za

Lees ook: Seekoei in Phalaborwa raakgery

 

Exit mobile version