Ruim skenking aan lyertjies

'n Ruim skenking van Platinum Petroleum Supplies (PPS) in Tzaneen gaan vier spina bifida lyertjies se lewenskwaliteit baie verbeter.

Dries Teubes wat dié mini-rolstoeltjies bou vir die jong lyers is verheug oor die skenking.

‘Ek is baie dankbaar vir die skenking wat hulle uit hulle eie gemaak het. Dit gaan vier kinders se lewens iewers baie beter maak,’ het Teubes gesê.

Muis en Monica Joubert, eienaars van PPS het verlede Vrydag die skening aan Dries oorhandig.

‘Ons het lankal gevoel dat ons die skenking wil maak nadat ons laasjaar al die artikel in die Herald gelees het. Dit gaan glad nie vir ons oor die blootstelling nie,’ het Monica aan die Herald gesê.

Letaba Herald het verlede jaar berig oor Dries Teubes wat by die meeste Tzaneeners bekend is as die man wat raamwerk doen, maar min het toe geweet dat hy graag in sy werkswinkel doenig raak met allerlei meganiese goeters en eksperimente wat hy op sy manier maak werk.

Dries raak aan die “speel” in sy werkswinkel en kort voor lank kan jy maar weet, kom hy met iets prakties en werkbaar te voorskyn wat iewers die lewe vir iemand ‘n bietjie makliker sal maak.

Mariaan Teubes, Dries se jongste dogter, wat nou in Nelspruit as ‘n arbeidsterapeut spesialiseer, werk met baie spina bifida kinders.

‘n Rolstoeltjie wat as terapeutiese apparaat gebruik word, is teen derduisende rande ingevoer. Die rolstoeltjie is spesifiek vir gestremde kinders ontwerp, maar uit die aard van die saak onbekostigbaar duur vir die gemiddelde Suid Afrikaanse familie wat, soos dit is, sukkel om in ‘n gestremde kind se gespesialiseerde behoeftes te voorsien.

Mariaan het pa Dries se hulp ingeroep. Met sy vindingrykheid, en sy vermoë om ‘n ding te kan laat werk en sy ongekende geduld het hy ‘n plan gemaak.

Vinnig was dié eerste rolstoeltjie volgens spesifikasies vir ‘n klein pasiëntjie gemaak en het die stoeltjie ‘n groot verskil in sy lewenskwaliteit en in sy familie se lewens gemaak.

So is die Warriors on Wheels Foundation ook gebore.

Sedertdien het Dries al ongeveer 25 stoeltjies “gebou” en met die hulp van ‘n paar vrygewige Tzaneeners het dit mettertyd heelwat makliker gegaan.

Met Dries se vernuf en die donasies, soos die van PPS en ander in verskeie vorme van ander besigheidsmense op Tzaneen, is die rolstoeltjies nou baie meer bekostigbaar vir die kinders wat dit so nodig het.

Die duurste komponent van ‘n rolstoeltjie is die Bumbo-sitstoeljie wat gebruik word om babas wat nog nie kan sit nie te ondersteun. Babas groei gewoonlik baie vinnig daaruit en soos met allerlei ander items wat uiteindelik nie meer gebruik word nie, beland dit in die stoorkamer of motorhuis.

Gaan grou gerus joune uit en skenk dit aan die Warriors on Wheels stigting. Dit sal ‘n lewe verander.

Die Warrior on Wheels Stigting, ‘n nie-winsgewende organisasie, kan bereik word deur Kylah Beukes te skakel op 082 547 8815 of epos kylahbeukes@gmail.com

Exit mobile version