Local newsNews

Ophou rook binne Tzaneen se bereik

‘n Rookstaak-kliniek word van 18 tot 22 Julie by Avispark Lodge te Aqualaan 2, Aquapark, Tzaneen aangebied.

Die internasionale program wat tydens die kliniek aangebied word, bied ‘n suksesvolle strategie om jou lus-vir-rook storms in toom te hou, dag in en dag uit.

Derduisende mense het al op die program die rookgewoonte oorwin teen minder as ‘n dag se rookgeld.

Trouens, die kiniek word heeltemaal gratis aangebied.

Daar is egter ‘n vangplek: ‘n Beperkte aantal deelnemers word toegelaat, en vooraf bespreking is noodsaaklik.

Meeste deelnemers aan die program het vir die laaste keer probeer om op te hou rook.

Hulle het dit reggekry! Jy kan ook. Vir navrae en bespreking skakel 082 961 7229.

Sluit ook aan by die sosiale netwerk deur die volgende webblad te besoek: https://www.facebook.com/TznRookstaak/

Toeka se tyd was dit sosiaal aanvaarbaar, selfs “in”, om ‘n dampie te slaan.

Tabak maatskappye kon dit waag om advertensies te plaas waar ‘n “mediese dokter” sou aanbeveel dat jy ‘n sekere soort sigaret moes rook omdat dit kwansuis goed sou wees vir jou.

Weliswaar is dames wat rook soms skuins aangekyk, maar die rook gordyn het mos saam met die Berlynse muur geval, dan nie?

Die winde van verandering het deesdae die rookwolke van mites en vals aansprake weggewaai en rokers voel vandag die winter van koue kyke en koue skouers wanneer hulle weer eens aanstoot moet gee.

Hulle voel dit letterlik aan die lyf as hulle – deur wetgewing nogal! – in die ban gedoen word en om hoekies en in afgebakende rookareas die roker-stigmas stook. En dalk wonder …

“Is die goed dan soos Tik of Crack dat ek dit net nie kan los nie …”?

Om op te hou rook is egter nie so maklik soos baie wil voorgee nie.

Rokers weet presies wat die gevare van hulle gewoontetjie is.

Hulle ervaar die verwerping, hulle ken die spot, die meewarige kykie, die vies snuif as hulle wind-op verby loop.

Dit alles help nie om op te hou met die aaklige gewoonte nie, dit troef nie daardie lus as hy jou beetpak nie.

Daardie lus … Hy word wakker as jy dit die minste verwag: Om die braaivleisvuur, as die Bokke ‘n drie druk of as die vleuel weer die bal aanslaan met ‘n oop doellyn voor hom.

Hy stoei jou om die hoek as Buurman se hond die heelnag blaf of as die baas knor in plaas van môre sê.

Hy is ‘n tsunami wat jou beetpak en soos ‘n opdrifsel rondslinger tot waar jy soos ‘n vis op droë grond snak na asem.

Hy is nie jou maat nie.

Hy gryp jou beste voorneme om op te hou weg soos ‘n strooihalm in ‘n warrelwind, tot waar dit skaars ‘n herinnering is.

Dan is daar altyd die goeie vrinne wat troos en raad gee en doepa voorskryf en jou laat smag na nog ‘n sigaret.

Feit is, daar is min dinge wat die rooklus werklik demp, want rook verslawing is baie meer kompleks as net nikotien verslawing.

Raad alleen is selde genoeg om die gewoonte vir ‘n kishou te slaan en hulpmiddels is slegs dit – dit help, maar gaan jou nie laat ophou rook nie.

Rokers wat hulle met hierdie storie kan vereenselwig, kan moed skep.

Daar is programme waaraan hulle kan deelneem wat kan spog met ‘n buitengewoon hoë sukses-syfer – en die beste is dat dit jou nie twee jaar in afsondering gaan hou of ‘n arm en ‘n been hoef te kos nie.

Een so ‘n program word binnekort op Tzaneen aangebied.

Related Articles

Back to top button