Local newsNews

R30 loop ‘n lang en eerlike pad

‘n Inwoner van Tzaneen het onlangs tot die besef gekom dat Samaritane nog bestaan. In vandag se deurmekaar lewe van korrupsie, geweld en diefstal (waarvan die koerante vol is) neem dit net een persoon om die persepsie “altyd-slegte-nuus” binne ‘n sekonde te verander.

Elize Botha vertel dat sy onlangs saam met haar kleinseun, Lian, gaan inkopies doen het by die Lifestyle Sentrum.

‘Ek was eintlik net na PNA toe om koeverte te gaan koop vir die kinders se rapporte,’ vertel sy, ‘n oud Laerskool Tzaneen onderwyser, wat haar deesdae besig hou met tuisonderig.

Na die inkopies het hulle kar toe gestap met die trollie en hul aankope in die kar gelaai.

‘Ek het my selfoon en my beursie in my kleinseun se baadjie toegedraai en dit in die trollie gesit tydens ons inkopies. Elize vertel dat sy ingedagte moes gewees het terwyl sy die inkopies in die kar gelaai het. Sy het die foon losgewikkel uit die baadjie en in die proses moes haar beursie uitgeval het ongesiens in die trollie agtergebly het.

‘Ek het glad nie agtergekom dat my beursie weg was nie en het eers by ‘n vriendin gaan kuier,’ vertel sy.

Intussen, soos mens in deesdae se nuusberigte verwag, is die beursie vort, gesteel, weg en wanneer sy dit sou agterkom sou Elize al haar kaarte moes kanseleer, verklarings aflê en deur die rompslomp gaan om weer in lang toue te staan vir ure en frustereed weer haar ‘lewe’ wat in haar beursie was, weer terug te kry.

Maar ‘n barmhartige Samaritaan, Dermas Baloyi, (47) pastoor van Xohoko, met sy bediening in N’wamitwa, het per toeval die verlate trollie met die beursie in naby FishAways sien staan.

Dermas het die beursie oopgemaak.

“Want ek moes dit terug besorg aan die persoon aan wie dit behoort, ek moes die persoon opspoor,” vertel Dermas eerlik.

Elize het hom saamgebring na die Herald se kantore om die storie te vertel. ‘En alle paaie lei mos na…’ Woorde ontbreek hom.

Maar almal weet mos hoe die bekende uitdrukking eindig. Elize val hom vinnig in die rede.

‘Daar was nie baie kontant in nie, seker so R30, maar die beursie is so oud, ek sou nooit kon dink iemand sou dit eers wou terug gee nie,’ en die twee lag saam.

Pastoor Dermas wou eers by die banke gaan aanklop om te help, deur haar kaarte vir hulle te gee sodat hulle hom so kon help om haar op te spoor.

Maar die banke was reeds gesluit.

Clicks in die Tzaneng Mall was sy tweede poging.

Hy het die situasie aan hulle verduidelik en personeel van Clicks het die kaart geskandeer en ‘n landlyn nommer is geskakel.

Maar sonder sukses. Baloyi het nie moed verloor nie. Hy is deur die kontantstrokies wat in die beursie was en het op ‘n selfoon nommer afgekom wat agter op een van die strokies geskryf was.

Die nommer is gebel. ‘Ek het gedink dalk is dit iemand wat haar ken, wat haar kan laat weet dat die beursie veilig is en dat ek dit aan haar terug wil besorg.’

Elize was heeltemal uit die veld geslaan toe sy die oproep kry. ‘Ek het nie geweet wie of waarvan hy praat nie. My beursie, wat van my beursie? ‘Hy het vir my bly vra, of ek nie my beursie vermis nie. Ek het gesê, nee. Toe vra hy weer, is jy seker. Toe gaan kyk ek voor in my kar waar ek altyd my beursie vergeet.’

Dit is eers hier waar Botha besef het, haar beursie IS weg.

Hulle het gereël om te ontmoet en hy het die beursie veilig, met al haar kaarte en die R30 terug besorg.

Sy het ewe omverskoning gevra oor dat daar net R30 in haar beursie was. Sy wou dit as beloning aan hom gee en selfs aangebied om nog te gaan trek.

‘Ek wou so dankie sê,’ vertel Elize.

Maar hy het volstrek geweier.

‘Ek kon nie ‘n beloning aanvaar nie. En ek kon ook nie die beursie neem nie. My gewete sou my te veel gepla het. Ek het ook gedink aan alles waardeur die persoon sou moes gaan om alles weer te vervang wat in haar beursie was,’ sê hy.

Stilte.

‘Ek is ongelooflik dankbaar. Dit is prysenswaardig. Mag jy geseënd wees Dermas,’ verklaar Elize hartlik.

‘As ek na haar kyk as ‘n bejaarde vrou, en weet sy is, want ek het haar geboorte datum op haar rybewys gesien, dan voel ek goed. Sy verdien nie om weer deur alles te gaan om die inhoud van haar beursie te vervang nie,’ se Baloyi.

Aan almal wil hy net sê: ‘Luister na jou gewete, as iets nie joune is nie, gee dit terug. Moet nie aan ander doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie.’

Dit is nie die eerste keer dat Dermas iemand se beursie terugbesorg nie. ‘n Paar jaar gelede was die scenario soortgelyk toe hy ‘n beursie, in ‘n hysbak opgetel het.

‘Daar was baie-baie geld in. Ek het dit nie eens getel nie. Dit was nie my reg om dit te doen nie, want dit het nie aan my behoort nie.’

Hy is toe na ‘n bank sodat hulle met die inligting op een van die kaarte die persoon kon opspoor.

Hy het aan hulle vertel dat hy die beursie opgetel het.

‘Hulle wou nie die besonderhede gee nie. En dit was reg so. Toe sê ek, dan bel julle en sê ek wil die beursie terug besorg. Ek bly net hier todat ek dit kan terug gee aan die persoon,’ vertel hy.

En so was dit toe ook.

Hy bly stil.

‘n Kalm, rustige stilte…amper gewyd.

Dermas, is daar nog iets wat jy vir Tzaneen wil vertel?

Hy kyk tevrede na Elize.

‘Nee, ek is ‘n man van min woorde… ek is bly my ‘ma’ is nou ‘fine,’ sê hy dan net op eg tradisionele wyse.

Related Articles

Back to top button