MunicipalNews

Tzaneen se swembad moontlik oop in September, of nie?

Tzaneen se welbekende munisipale swembad, onder inwoners bekend as die dorp se wit olifant, is steeds nie oop vir die publiek om daarin te gaan swem nie.

Die Herald het in die verlede berig dat die GTM ‘n amptelike opening by die swembad gehou het, bygewoon deur burgemeester Dikeledi Mmetle, Speaker van die Raad, Cassius Machimana en ander munisipale hooggeplaastes.

Tydens die geleentheid het die GTM bekend gemaak dat die swembad, weens ‘n gebrek aan lewensredders, nog nie oop was nie, maar dat die proses reeds begin het om nuwe redders in plek te kry. Volgens e-pos gesprekke na die opening, met Neville Ndlala, media woordvoerder van die Groter Tzaneen Munisipaliteit, sou hierdie proses nie langer as drie maande geneem het nie.

Later het woord die Herald se ore bereik, dat daar ‘n assessering gehou is om die regte GTM personeel te probeer identifiseer, met geen goeie nuus aan die anderkant nie.

Volgens die assessering was nie een van die GTM se aspirant lewensredders vreeslike behendige swemmers nie en moes hulle basies van voor af leer swem voor hulle verder in lewensredding opgelei kon word.

Na herhaaldelike pogings om meer inligting uit Ndlala te kry, het hy uiteindelik geweier om verder die Herald se vrae te beantwoord.

“Ek sal julle laat weet wanneer daar nuus oor die swembad en die lewensredders is. Dit gaan nie help om my elke week vrae te vra nie,” het Ndlala in Januarie aan die Herald gesê.

Die afgelope naweek was die swembad egter nasionale nuus, toe ‘n bekende Afrikaanse dagblad daaroor berig het.

Volgens dié berig, was daar steeds geen verandering sedert die Herald laas oor die swembad berig het nie, buiten dat Ndlala se drie tot ses maande, nou geskuif het tot in September, met Ndlala wat die naweek aangehaal is dat die swembad teen volgende swemseisoen swemgereed sal wees.

Related Articles

Back to top button