Local newsNewsLifestyle

Reaksiegroep slaan vet slag

Letsitele en Constantia se reaksiegroep het verlede Dinsdag 'n slag geslaan toe 'n groot sak dagga tydens 'n padblokkade gekonfiskeer en twee verdagtes in hegtenis geneem is.

Volgens die reaksiegroep se woordvoerder, Mariette van der Westhuizen, bestaan die reaksiegroep uit plaaslike boere en ander vrywilligers wat nou saam met die SAPD en lede van Large Sekuriteit werk.

Die padblokkade is verlede Dinsdag op die Eilandpad gehou.

Een van die eerste voertuie wat gestop is, was ‘n minibus taxi.

Die bestuurder het egter, toe hy besef sy voertuig gaan deursoek word, terug gespring en probeer wegjaag. Lede van die SAPD en die reaksiegroep het die verdagtes agterna gesit.

Die minibus taxi het voor ‘n bekende vrugte uitvoerder tot stilstand gekom en die verdagtes is die bosse in.

Na ‘n onsuksesvolle soektog na die verdagtes het die SAPD op hul voertuig beslag gelê.

Ongeveer 45 minute later het die groep besluit om die padblokkade te skuif.

Terwyl die padblokkade besig was om te skuif, het ‘n paar lede solank vooruit beweeg na waar hulle volgende sou gaan opslaan.

Dié lede het in die proses die verdagtes langs die pad opgemerk en hulle is met behulp van die SAPD in hegtenis geneem.

Die Letsitele en Constantia reaksiegroep is aanvanklik gestig met die doel om transformator diefstalle te probeer bekamp.

Van daar het die groep se take net meer uitgebrei.

Hulle werk nou saam met die plaaslike SAPD (soos die Herald kan getuig na een van ons joernaliste verlede jaar ‘n padblokkade gaan bywoon het) en plaaslike sekuriteitsmaatskappye en die hoofdoel is om enige misdaad te probeer verhoed of bekamp.

Die reaksiegroep bestaan uit vrywilligers wat almal gereeld op eie onkoste, ongeag van die tyd van die aand, reageer op noodoproepe.

“Ons kan altyd doen met nog mense wat landelike veiligheid op die hart dra,” het Van der Westhuizen aan die Herald gesê en bygevoeg “Sodra die ledetal dit toelaat sal die reaksiegroep ook begin patrollies in die area doen.”

Wat ‘n wenslys vir die reaksiegroep betref is daar tans twee items waaraan hulle ‘n dringende behoefte het, koeëlvaste baadjies en hoëband radio’s.

Enigiemand wat belang stel om betrokke te raak, as skenker of as lid van die reaksiegroep, is welkom om Wynand de Jager (jnr) te skakel by 076 671 9302.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button