Phalaborwa vrot!

Straatdreine in Phalaborwa het sulke ernstige afmetings aangeneem dat inwoners nou uit hul huise gedryf word deur die stank.

Veral in die omgewing van Essenhout-en Paul Krugerstrate naby Spar, is die stank van rou riool nou alledaags.

Huishoudings in President Krugerstraat loop die laaste paar weke erg deur. Inwoners kla aanhoudend oor die onuithoudbare stank wat oor die dorp hang.

Die Herald het gaan ondersoek instel. Een van die ontstoke inwoners het aan Herald gesê: “Dit help nie ons meld die probleem aan by die munisipaliteit nie.

Daar word absoluut niks aan die situasie gedoen nie, ons klagtes val op dowe ore.“

Nog ‘n ontstelde inwoner het aan die Herald haar ongelukkigheid uitgespreek.

Nadat sy die munisipaliteit geskakel het oor die probleem van ‘n verstopte drein op die sypaadjie voor haar huis, vertel sy: “Die persoon was baie ongeskik en het aan my gesê, dat dit nie die munisipaliteit se probleem is nie, waarna die foon in my oor neergesit was. Die stank raak nou so ondraaglik dat ons snags nie kan slaap nie. Ons huise ruik daarna. Die reuk trek oral in. Dis so onaangenaam en geen plesier om kos te kook in jou eie huis nie.”

Die munisipale beampte wat die vrou geskakel het se naam is bekend aan die Herald. By navraag het die toesighouer van die beampte aan die Herald gesê: “Ek weet nie hoekom die persoon so vir die vrou gesê het nie. Ek sal dit met hom opneem en hoor hoekom hy so gesê het, en hoekom hy die foon in die vrou se oor neergesit het.’

Hy het bevestig dat die dreine op die sypaadjies wel die munisipaliteit se probleem is en dat blokkasies in ondergrondse pype, dreine en infrastruktuurprobleme lei tot die probleem.

Inwoners in Essenhout-en Paul Krugerstrate soek antwoorde oor wat die munisipalitet omtrent die probleem gaan doen. Nog ‘n ontstoke inwoner het onsteld vertel dat die riool soms tot binne in hulle huis inloop.

Volgens die inwoner is hulle nou genoop om slote te grawe voor hul huis om die riool weg te lei.

“Die verstopte dreine se rioolwater loop af in die strate van Phalaborwa na ons spruite toe, as dit later reën beland dit in ons drinkwater.”

Die situasie is ‘n enorme gesondheidsrisiko vir die dorp.

‘Geen inwoner verdien om onder sulke omstandighede te lewe nie,’ het die inwoner gesê.

Exit mobile version