FNB Classic Clashes: Ben Vorster vs PHS dié naweek

Dit is weer die naweek tyd vir die "FNB Classic Clashes" tussen Ben Vorster en PHS.

Hoërskool Ben Vorster se skoolhoof, Chris Denysschen se boodskap:

Chris Denysschen.

Dit is vir die Hoërskool Ben Vorster weereens ‘n besondere voorreg om vanjaar deel te wees van die jaarlikse “FNB-Classic Clashes” teen PHS.

Hierdie is die 7de jaar wat die kragmeting plaasvind tussen die twee skole en ons weet dat die vriendskapsbande al sterk gevorm is en getuig van wedersydse respek.

Tradisioneel lewer hierdie dag opsigself besonderse sporthoogtepunte vir beide skole en ‘n mens kry opnuut bewondering vir elke kind se Godgegewe talent en die passie waarmee hy/sy die talent uitleef.

Dae soos hierdie leer ons kinders op die sportveld en selfs op die pawiljoen om eie belang ‘n slag eenkant toe te skryf en ter wille van die saak betrokke te wees.  Immers haal kompetisie die beste uit enige individu.  Dit is juis vanweë hierdie strewe van twee spogskole om elk in eie reg ons leerlinge ten beste toe te rus vir die toekoms wat op hulle wag.

Ek wil van die geleentheid gebruik maak om ons gashere, die Hoërskool Pietersburg, in besonder mnr. Willie Schoeman, die beheerliggaam, ouers en leerders van die skool hartlik te bedank vir al hul moeite met die reël van die dag.

Vergun my die geleentheid om FNB in besonder te bedank vir hul borgskap en ondersteuning in die bevordering van sport in ons provinsie.  Dit is ‘n voorreg om met FNB geassosieer te word.

Ek sluit af met ‘n aanhaling van Michael Phelps aan elke deelnemer: “The more you dream, the more you achieve”.  Mag groot drome, positiewe denke en vasberadenheid deurslaggewend wees in die uitlewing van elkeen se talent.  Mag elke deelnemer te alle tye goeie sportmanskap toon en of jy nou wen of verloor as oorwinnaar van die veld sal afstap. Ons weet mos:  “It’s not about winning or losing, but how you play the game”.

Mag elke ondersteuner hierdie dag geniet, die mooi momente onthou en geïnspireer word deur die goeie sportmangees. Laat die fokus nie wees op eindtellings nie, maar op herinneringe en beelde van briljantheid, toewyding, lojaliteit en trots.

Exit mobile version