Is daar lang vingers by Tzaneen Poskantoor?

'n Inwoner van Tzaneen is baie ongelukkig oor haar pakkie wat reeds oopgemaak was toe sy dit by die plaaslike poskantoor gaan afhaal het.

Elize Els was verlede week in die Poskantoor om pakkies vir haar werk te gaan haal toe sy haar eie pakkie sien en besluit om dit sommer ook te kry. Groot was haar skok egter, toe sy sien haar pakkie is nie net oopgemaak nie, die ander los houers binne in die pakkie sommer ook.

Sy het by die Poskantoor personeel gekla maar hulle het haar na die Poskantoor se webwerf se klagtes bladsy verwys. Volgens Els was dit egter nie van enige waarde nie. Na ‘n week se gesukkel kon sy steeds geen hulp van enigiemand by die Poskantoor kry nie. “Ek is heen en weer gestuur maar niemand kon my help nie,” het Els aan die Herald gesê.

Die Herald het self via die Poskantoor se webwerf gaan hulp soek vir Els en het binne ‘n dag van hulle gehoor. Volgens Johan Kruger, van die Poskantoor se Kommunikasie Afdeling, is dit onaanvaarbaar dat mense se pakkies deur poskantoor werkers oopgemaak word. Op die Herald se vraag het hy geantwoord dat selfs wanneer Poskantoor werknemers vermoed die inhoud van ‘n pakkie mag dwelms wees, het hulle steeds nie die reg om die pakkie oop te maak nie. In so ‘n geval moet die SAPD in kennis gestel word en hulle sal die pakkie onder toesig oopmaak.

Kruger het verder onderneem om met Elize Els kontak te maak. Die Herald het Els se nommer aan Kruger verskaf.

“Die Poskantoor vra graag om verskoning vir die ongerief en teleurstelling wat die insident vir Me Els veroorsaak het. Van ons klientedienskonsultante sal Me Els kontak om die saak op te los. Die Poskantoor het ‘n afdeling wat daarop fokus om misdaad in en om die posbedryf te bekamp. Enigiemand wat so ‘n misdaad of oortreding wil aanmeld, kan ons blitslyn skakel by 0800 020 070,” het Johan Kruger van die Poskantoor aan die Herald gesê.

Lesers kan gerus hul oë op die Herald se webwerf hou vir meer inligting soos hierdie storie ontvou.

“Baie dankie vir julle moeite, dis goed om te sien daar is mense wat ons dorp se belange beskerm,” het Els aan die Herald se verslaggewer gesê.

Exit mobile version