Transformator diefstal, twee betrap

Twee Mosambiekse broers, Johannes en Jauros Nyathi, is in die vroeë oggendure van Sondag 8 Mei, in die Constantia area, vir die diefstal van transformators inhegtenis geneem.

‘n Bekende boer in die omgewing (sy identiteit word weens veiligheidsredes weerhou) het met die Herald gesels oor die gebeure wat gelei het na die arrestasies.

Volgens hierdie bron het die diefstal iewers tussen 12:00 en 04:00 plaasgevind.

‘n Nagwag het die aand sy normale patrollies gedoen, maar die booswigte moes hom dopgehou het en het toegeslaan vermoedelik net na hy die laaste keer by die transformator verby is.

Die boer het die diefstal eers 06:00 die oggend ontdek toe hy die pompe wou gaan afskakel.

Hy het die nagwag gestuur om te kyk of hy ‘n spoor kon kry en dadelik die SAPD geskakel.

Ongeveer ‘n uur later het hy ‘n oproep van die wag ontvang. Dié het hom ingelig dat hy ‘n duidelike spoor gekry het.

In ‘n verrassende wending, was die plaaslike SAPD vinnig op die toneel en is hulle saam met die boer die bosse in, na waar die nagwag by die spoor gewag het.

Saam het hul verder die spoor gevolg wat tot by ‘n huis in ‘n informele nedersetting gelei het.

Die SAPD het die deur oopgemaak en twee mans het uitgehardloop en probeer vlug.

Die nagwag het die een vlugtende plategtrek en lede van die gemeenskap het hom vasgehou, terwyl die SAPD nog twee verdagte mans binne die huis gearresteer het.

Na wat verneem word, is die een verdagte intussen vrygelaat omdat hy nie met die diefstal verbind kon word nie en volgens hom slegs huisvesting aan die mans gebied het.

Die vlaag van transformator diefstalle het egter nie met hierdie arrestasies tot ‘n einde gekom nie, met nog ‘n transformator wat in die volgende aand in die Letsitele area gesteel is.

Volgens Corrie Large, van Large Sekuriteit, is arrestasies soos hierdie belangrik, maar is dit nie genoeg om die probleem op te los nie.

“Daar moet dringend gekyk word na mense wat vir misdrywe soos hierdie gearresteer word se borgtog vereistes. Dit is op die oomblik te maklik vir hulle om borg te kry,” het Large aan die Herald gesê voor hy bygevoeg het: “Daar moet behoorlike ondersoeke gedoen word voor verdagtes op borg vrygelaat word. Selfoonrekords moet veral nagegaan word. Deesdae kan ‘n verskeidenheid van inligting uit ‘n verdagte se selfoon verkry word,” aldus Corrie Large van Large Sekuriteit.

Volgens Neville Ndlala, woordvoerder van die Groter Tzaneen Munisipaliteit, is die GTM nie bewus van enige arrestasies wat gemaak is nie.

“Enige arrestasie vir transformator diefstalle is egter beslis ‘n stap in die regte rigting,’ het Ndlala aan die Herald gesê.

Die twee broers het verlede week in die hof verskyn.

Exit mobile version