Hoedspruit: Kleuter oorleef noue ontkoming

'n Vyfjarige kleuter het amper met sy lewe geboet na 'n luiperd hom in die Hoedspruit omgewing aan sy skouer gegryp en hom die bosse probeer insleep het.

‘n Vyfjarige kleuter het amper met sy lewe geboet na ‘n luiperd hom in die Hoedspruit omgewing aan sy skouer gegryp en hom die bosse probeer insleep het.

Kellan Denny en sy ouers (van Johannesburg) was met vakansie by die Ntsiri wildreservaat toe die amperse tragedie afgespeel het.

Volgens ‘n anonieme bron, bekend met die reservaat, het die luiperd Kellan ongeveer 30m ver gesleep voor hy hom laat los het.

Volgens die bron was Kellan en ‘n vriendjie besig om buite hulle wooneenheid op ‘n lae muurtjie te speel toe die luiperd hom gegryp het.

Sy pa, Justin Denny was enkele meter weg toe die luiperd skielik opgeduik en klein Kellan probeer skraap het.

Die luiperd het met Kellan in sy kake probeer vlug, met ‘n skreeuende Justin agterna.

Twee ander vakansiegangers (in aparte wooneenhede) het die rumoer gehoor en gaan ondersoek instel, waarop hulle die luiperd met die kind in sy kake gewaar het. Die skielike verskyning van nog mense tesame met die geraas het veroorsaak dat die verwilderde luiperd die kind los en laat spaander.

Die drie mans wat die luiperd verjaag het is waarskynlik die enigste rede dat klein Kellan met sy lewe daarvan afgekom het. ‘n Dokter en verpleegster (ook met vakansie op die reservaat) het Kellan se wonde behandel. Voorvalle soos hierdie herinner mens dat ons slegs besoekers is wanneer ons in die bos gaan kuier en dat ouers, selfs al is hulle binne sig van hul kinders, steeds op hul hoede moet wees.

Die Denny’s kon nie opgespoor word vir kommentaar nie.

Exit mobile version