Nwamitwadam is op pad

Na bykans drie dekades van wag, is die droom van 'n dam by Nwamitwa uiteindelik besig om 'n realiteit te word.

Plaaslike inwoners het onlangs kennisgewings ontvang dat ‘n geotegniese ondersoek eersdaags gaan begin. Wetenskaplikes en werkers kort dus toegang tot omliggende plase om toetsputte te grawe om sodoende toegang tot grondmonsters te verkry.

Volgens Louis le Roux, van die Letaba Waterverbruikersvereniging, is hierdie monsters nodig om te bepaal of die grond en klip onder die oppervlak die regte gehalte is om die dam op te kan bou.

Hierdie projek, wat al bykans drie dekades neem om te gebeur, se kostes het sedert die aanvanklike beraming die hoogtes ingeskiet en dit sal dus ernstige wiskunde neem om alles te maak pas. Waar dit in die vroeë tagtigs ‘n geraamde (net kort van) R500 miljoen sou gekos het om te bou, sal dit vandag waarskynlik nader aan R2miljard uit die regering se sakke jaag.

Die druk wat ‘n Nwamitwadam van die water infrastruktuur in die oostelike dele van Limpopo afhaal, maak dit egter die moeite (en geld) werd.

Volgens die skedule (wat in die Herald se besit is) sal die geotegniese ondersoek ongeveer 12 weke neem, mits die laboratorium toetse nie langer as vyf weke duur nie.

Hou gerus die Herald dop vir meer inligting soos die geotegniese ondersoek vorder.

Exit mobile version