Local newsLocal sportNewsSport

Hennie sterf: Klaseriedam nooit weer dieselfde

Alles het begin verander toe die alombekende en baie geliefde Hennie de Bruin einde Februarie oorlede is.

Hy en Annet, die raakvat-vrou wat alles laat gebeur het, was vir baie jare die gesig van Klaseriedam.

Nou het die eensaamheid en vrees om snags alleen te wees Annet ook genoop om die water van die Klaseriedam finaal van haar voete af te droog.

“Ek sou graag langer hier wil bly, maar ek is bang. Veral saans alleen in die plaashuis. Hier is baie beweging snags in ons onmiddellike omgewing en ‘n baie gewilde kuierplek reg langsaan waar erg gefuif en lawaai word. Ek slaap omtrent nie en kan dit nie meer vat nie.

Hoe moeilik ookal, ek verlaat Klaseriedam die einde van die maand,” het ‘n erg aangedane Annet vandeesweek aan die Herald vertel.

Onder Hennie en Annet se leiding het die Klaseriedam nie net gegroei tot een van die gewildste hengeloorde in die land nie, maar die 40uur uithou karpkompetisie, wat jaarliks aangebied is, het hengelaars van dwarsoor die land getrek en gou ‘n reputasie gekry as een van die lekkerste hengelkompetisies in die land.

Diè kompetisie is 12 jaar na mekaar aangebied en was ‘n groot inspuiting vir die omgewing se ekonomie.

Die Klaseriedam se webtuiste, wat deur die De Bruins se seun ontwikkel is en opgedateer word, het ook duisende volgelinge wat al die gebeure by Klaserie volg.

Dit het grootliks bygedra tot die bekendheid en gewildheid van die skilderagtige omgewing. Maar daar is darem nog ‘n greintjie hoop. Annet sê as sy ‘n geskikte persoon of persone kry om by haar in te woon sal sy beslis oorweeg om aan te bly.

“Ek is net te bang om alleen hier te bly. As ek ‘n geskikte loseerder kry sal ek weer moet dink,” vertel Annet.

Indien sy wel die einde van die maand trek gaan sy by haar dogter in Phalaborwa in ‘n woonstel woon. “Maar ek gaan eers my draaie ry. Ek het in 12 jaar nooit met vakansie gegaan nie en ek wil nou eers opvang,” sê sy. “Ek het in twaalf jaar baie goeie vriende gemaak wat ek nooit sal vergeet nie. Ongelukkig ook seker maar ‘n paar vyande maar hulle was min. Ek is die grootste dank in my lewe aan Hannes Potgieter van Potgieter Sand en Klip Ek het vir Hennie gewerk en hy is ’n wonderlike man wat baie goed was vir my. Ek sal hom ewig dankbaar bly,” vertel sy met trane in haar oë.

Klaseriedam gaan nooit weer dieselfde wees nie …. Of dalk tog?

*Hennie de Bruin het gereeld bydraes vir publikasie aan die HERALD-groep gelewer en sy gemaklike en beskrywende manier van skryf het groot byval gevind onder lesers. Hy het ook gereeld die rubriek “Carpe Diem” op die Klaseriedam webtuiste geskryf.

Related Articles

Back to top button