Tzaneen se munisipale biblioteek steeds ‘n lees-hemel

Vandag se kinders spandeer te veel tyd voor die TV en heeltemal te min tyd agter die storieboeke.

Waar is die dae toe ons saam met Fritz Deelman die Gori Lama gaan soek het, of saam met Die Uile in Kranskop teen die bende motorfiets rampokkers opgestaan het?

Selfs oom Wilbur Smith en sy “gloeiende Afrika son wat soos ‘n bekruipende roofdier op die horison hurk” het ons weggevoer na plekke ver van hier.

Vandag is dit te maklik om ons kinders voor die TV sit te maak en bloot aan te gaan met ons aand se takies.

Wat ons egter nie besef nie, is dat die ouer amper direk verantwoordelik is vir die plant en kweek van leesliefde in hul kinders.

In ‘n tyd van ogies vasgeplak aan foon-, rekenaar- en tablette se skerms, is dit ongewoon om te hoor van kinders wat aktief (en uit hul eie) lees.

Een van die hoof verskonings is die onbekostigbaarheid van boeke.

Wel vir diegene wat finansies en die prys van boeke as ‘n onklimbare berg tussen hulle en hul kinders se leesgenot sien, is daar goeie nuus.

Tzaneen se munisipale biblioteek is nie net steeds aan die gang nie, maar kan kompeteer met amper enige biblioteek in die groter dorpe of stede van ons land.

Alles van gratis internet tot gemaklike sitplekke waar ‘n mens vir ‘n wyle in ‘n boek in kan ontsnap is beskikbaar.

Daar is selfs ‘n studiesaal vir diegene wat sukkel om tuis by hul studies uit te kom en ten tye van die Herald se besoek was hierdie saaltjie provol.

Christine Nel, die persoon in beheer van hierdie moderne mediasentrum is baie opgewonde oor wat die toekoms vir die biblioteek inhou.

“Jy moet sien by ons sateliet persele in Tzaneen se omliggende areas hoe hardloop die jong kinders nader wanneer ons die deure oopsluit.

Daar is ‘n honger vir lees onder daai kinders,” het sy aan die Herald gesê.

Hoewel dit soms mag voorkom asof die biblioteek se rakke kreun onder die gewig van al die boeke, is die verkryging van nuwe titels wel ‘n probleem.

Tzaneeners wat dus nie weet wat om met boeke te maak wat hulle reeds gelees het nie, is meer as welkom om by die biblioteek ‘n draai te gaan maak.

Lees volgende week in die Herald meer oor die twee sateliet biblioteke in die area (Mulati, agt kilometer buite Letsitele en Shilowane, net verby Lenyenye) wat ook deur die Tzaneen Biblioteek bestuur word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version