Oppas vir wasgoedpoeier glyjakkels!

'n Plaaslike vrou, wie se identiteit aan die Herald bekend is, was so byna-byna die slagoffer van 'n kamma-verkoopsman.

Hierdie glyjakkals beweeg deur die dorp en bied bokse wasgoedpoeier, teen ‘n baie goeie prys, te koop aan.

Sodra sy niksvermoedende klante klaar betaal het, kies hy die hasepad.

Wanneer sy slagoffers egter later die boks “waspoeier” oopmaak, kry hulle drie bakstene in plaas van die beloofde waspoeier.

Die Herald se bron het gelukkig eers die boks oopgemaak om seker te maak wat sy koop.

Toe die verkoopsman sien sy maak die boks oop het hy laat spaander.

Volgens haar, het sy gister ongeveer 08:30 by die werk aangekom, net betyds om te sien hoe ‘n vrou, wat saam met haar werk, met ‘n onbekende man in gesprek is.

Haar kollega het ‘n boks wasgoedpoeier by die man bestel en werknemers van ‘n naburige besigheid nog twee.

Die man was daar om dit af te lewer.

Haar kollega het daarop aangedring dat die man die bokse eers oopmaak sodat sy kan sien wat daarin was.

Die man het deurentyd laat weet as ‘n verskoning gepleit en aangedring op die geld.

“Hy het die hele tyd gesê my kollega moet hom betaal, want hy is laat vir werk,” het die bron aan die Herald gesê.

Nog ‘n kollega het nader gestaan en hulle het die bokse na binne gedra met die belofte dat hulle sou betaal sodra hulle kon sien dat alles in orde was met die waspoeier.

Die oomblik toe hulle die bokse begin indra het die onbekende man weg gehardloop.

Inwoners word gemaan om vir hierdie slenter versigtig te wees.

As iemand die “verkoopsman” gewaar moet hulle die SAPD skakel.

Exit mobile version