Local newsNews

Vossie busongeluk: Boodskappe van ondersteuning stroom in

Boodskappe van ondersteuning is steeds aan die instroom na die busongeluk waarby die Hoërskool Ben Vorster se wintersport-spanne Vrydag betrokke was.

Boodskappe van ondersteuning is steeds aan die instroom na die busongeluk waarby die Hoërskool Ben Vorster se wintersport-spanne verlede Vrydag betrokke was.

Teen verlede Maandagoggend was daar oor die 67 000 boodskappe op die skool se Facebook bladsy.

Nuus van die ongeluk het soos ‘n veldbrand op sosiale netwerke versprei terwyl die skool ouers ingelig gehou het op die skool se amptelike Facebook blad en via D6 School Communicator.

‘Die reaksie van die gemeenskap was oorweldigend,’ het sport-organiseerder André Hay gesê.

‘Minute na die ongeluk is ons oorval deur skole wat busse wou stuur om ons gestrande kinders te kom oplaai. Hulp is tot deur die Blou Bulle en Valke rugby-unies aangebied.’

Skoolhoof Chris Denysschen was reeds by Oos Moot, die skool waarheen die Vossies op pad was, toe hy oor die ongeluk verwittig is. ‘Oos Moot het onmiddelik hulp aangebied en ons besluit om te onttrek aan die sportdag heelhartig ondersteun, het Denysschen gesê.

‘Ons is baie dankbaar vir elke gebed en boodskap van ondersteuning wat ons ontvang het. Dit wys net vir jou hoe ‘n gemeenskap hulle verskille opsy kan plaas en laer kan trek wanneer van hulle lede in nood is.’

Die ongeluk het op Saterdagoggend, omstreeks 6-uur, net na die Naboomspruit afrit in die rigting van Kranskop gebeur.

Die Vossie se wintersport-spanne was in vyf gehuurde Netshituni busse en ander skoolbussies op pad Pretoria toe om teen Oos Moot se rugby-, netbal- en hokkiespanne kragte te meet.

‘n Polo het ‘n vragmotor verbygevat op ‘n stuk van die pad waar daar padwerke was.

Die bestuurder het kop-aan-kop met die bus, waarin die leerlinge was, gebots.

Die insittendes van die Polo is opslag dood.

Die leerlinge het slegs ligte beserings opgedoen danksy die flinke reaksie van die busbestuurder wat die bus onder beheer gehou het en ‘n botsing met ‘n aankomende vragmotor vermy het.

Netshituni coaches het ‘n bus van Thohoyandou gestuur om die gestrande leerders op te laai.

Die sportbyeenkoms is afgestel en al die busse het omgedraai Tzaneen toe.

By aankoms, is leerders ingewag deur ‘n dokter en predikante, wat op elke bus die ergste trauma ontlont het.

‘Ons is ons Hemelse Vader innig dankbaar dat geen kind ernstig beseer is nie,’ het Denysschen gesê.

‘Dit was ‘n groot skok vir die betrokke kinders en ons harte gaan uit na die familie van die afgestorwe insittendes van die Polo.

Enige kind of ouer wat berading of meer inligting benodig, moet die skool asseblief kontak.’

Related Articles

Back to top button