Maatreëls om stroop-probleem hok te slaan

Toenemende wildstropery (“poaching”) op ‘n plaas langs die Letabarivier het die eienaars genoop om nuwe maatreëls in te stel om diè probleem hok te slaan.

Volgens die eienaars van Letaba River Lodge (voorheen Ekopark), neem wildstropery kritiese afmetings aan en raak die stropers meer op hulle gemak en waaghalsig en bedreig dit die winsgewendheid van hulle onderneming.

“Ons verloor jaarliks baie wild aan stropery en die probleem raak al groter”, sê Andrè de Lange van Letaba River Lodge. Hulle het nou die dienste van ‘n privaat sekuriteitsmaatskappy, wat spesialiseer in die bekamping van wildstropery, bekom om saam met die polisie en Natuurbewaring die bedreiging aan te spreek.

Volgens De Lange word spore van die stropers en duidelike tekens van die jag gereeld gevind, maar arrestasies en veroordelings vind selde plaas. Die spore word gevolg tot teen bure se grond van waar die stropery klaarblyklik plaasvind. Veral njalas, blesbokke en rooibokke word geteiken en volgens hom het hulle nie meer ’n enkele groot njalabul oor nie.

Hulle het ook onlangs ‘n dooie seekoei in die Letabarivier gevind wat duidelik doodgeskiet is en klaarblyklik nie deur die jagters uit die rivier gehaal kon word nie.

“Ons het ‘n goeie idée van wie by die stropery betrokke is en gaan nie rus voor die skuldiges aangekeer is nie,” sê De Lange.

Ander boere in die omgewing kla ook oor wildstropery. Bosbokke en bosvarke kom nog natuurlik op enkele plekke in die omgewing voor, maar loop erg deur onder stropers en getalle het dramaties afgeneem.

Enige persoon met inligting oor wie by by wildstropery betrokke is kan met De Lange skakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version