NewsSchools

Nuwe organiseerder vir krieketakademie

Die Hoërskool Ben Vorster se krieketakademie is die laaste aantal jare suksesvol bedryf deur George Engelbrecht.

Hy het egter Tzaneen verlaat en het sy afrigtingsloopbaan by die Hoërskool Monument gaan voortsit.

Die nuwe krieketorganiseerder en hoofafrigter van die Vossies se krieketakademie is Rynier de Jager.

Met meer as 10 jaar se ondervinding in krieketafrigting op verskeie vlakke, sal Ben Vorster se krieket steeds op ‘n hoë noot bedryf word en na nuwe hoogtes en mylpale gestreef word.

De Jager se loopbaan as afrigter het begin by Northern Titans Krieketunie waar hy betrokke was by junior, sowel as senior afrigting.

Hy is verplaas na Limpopo om te help met die uitbreiding van krieket ontwikkelingsprogramme in verskeie areas.

Die Limpopo krieketakademie is tot stand gebring en Rynier is aangestel as hoofafrigter.

Verskeie provinsiale en nasionale spelers het hul eerste tree na sukses gegee tydens hul jaar by die Limpopo Krieketakademie.

Name wat uitstaan is Protea speler, Dale Steyn, en Titans openingsbouler, Ethy Mbalatje.

Rynier was self ‘n kranige krieketspeler en het verskeie klubs, asook Limpopo Country Districts, in sy vroeër jare verteenwoordig.

Vicky Esterhuizen is al drie jaar betrokke by die akademie en sal as hulpafrigter optree.

As oud-Vossie het hy Limpopo skole verteenwoordig op O/17- en O/18-vlak asook die Limpopo Impalas, die senior krieketspan van Limpopo.

Vicky is ‘n gekwalifiseerde afrigter wat later in die jaar sy CSA-vlak 2-afrigting gaan doen.

Die Hoërskool Ben Vorster se krieketakademie is bekend daarvoor om goeie spelers en spanne op te lewer en die akademie sal voortgaan om dié suksesse te behaal.

Die akademie verskaf gespesialiseerde afrigting, vanaf voorskoolse kinders tot O/19-vlak.

Die akademie bied ook die geleentheid vir “one-on-one” sessies vir die spelers wat hul kriekettalent en vermoëns na ‘n volgende vlak wil neem.

Die akademie streef daarna om spelers die geleentheid te gee om hul talente te ontgin en ook om die Hoërskool Ben Vorster se krieketspanne te ontwikkel om mededingend te kan wees teen die beste skoolspanne in Suid-Afrika.

Sluit aan by die Hoërskool Ben Vorster se krieketakademie en gee die volgende tree na die verweseliking van jou krieketdrome.

Alle belangstellendes kan mnr. Rynier de Jager kontak by 079 883-5655 vir enige verdere inligting.

Related Articles

Back to top button