Editor's choiceLocal newsNews

Help soek na Baxter

Vroeg-vroeg in die Nuwe Jaar het die storie van Baxter die verlore Alsation op Facebook verskyn en het die kennisgewings oral op die dorp opgegaan.

Dis ‘n eienaardige storie, want gewoonlik binne ure nadat ‘n verlore huisdier sy verskyning op die bladsy van Tzaneen Snuffelgids gemaak het, word sy mense opgespoor. Maar nie in hierdie geval nie.

Volgens inigting het Baxter op Oujaarsdag gedurende die vroeë middagure al die pad gevat. Wat gebeur het na donker op Oujaarsaand en waar Baxter die nag deurgebring het, dit weet niemand nie, maar op Nuwejaarsdag het hy homself by die Sasol Garage oorkant Hoërskool Ben Vorster bevind.

Die mense van die Sasol Garage het op die sekuriteitsopnames gesien hoe Baxter op die perseel rondloop. Wat hulle ook kon sien is hoe ‘n vrou vir hom kos gee.

Volgens een van die petroljoggies daar het dié vrou se voertuig ‘n GP-registrasie gehad. Sy het blykbaar iemand gebel en kort daarna het ‘n man opgedaag in ‘n kleinerige bakkie, iets soortgelyks aan ‘n Opel Corsa met ‘n wit- of silwerkleurige ‘canopy’. Hy het die hond opgelaai en weggery.

Ongelukkig kon die petroljoggie nie meer inligting verskaf nie aangesien hulle dié dag vreeslik besig was.

Die man het nié vir Baxter na die DBV toe geneem soos ‘n mens sou hoop nie. Dalk het hy probeer, maar hulle was dalk toe? Dalk het hy gedink hy sal die volgende dag of die dag daarna gaan …

Maar na vele Facebook pleidooie en kennisgewings mét Baxter se foto op het die vreemde man in die klein bakkie nog niks van hom laat hoor nie.

Daniel is rasend. Baxter is ‘n baie ou hond en hy het baie spesiale versorging nodig. “Ons wil hom net terug hê by die huis! Hy is deel van die familie!”

Die DBV is bewus van hulle soektog na hulle ou Alsation en net om seker te maak gaan maak hulle elke dag ‘n draai daar.

Baxter se huismense het sy foto oral versprei en vra mooi asseblief dat die man wat hom opgelaai het met hulle in verbinding sal tree.

“Ons kan nie tot ruste kom as ons nie weet waar hy is nie.” Enigiemand met inligting kan Daniel skakel op 074 453 8125 of vir Franna op 072 657 4115.

Related Articles

Back to top button