Letaba Ranch: ‘n Nes van korrupsie

'n Massiewe miernes van korrupsie, bedrog en omkopery wat jagregte in die welbekende Letaba Ranch reservaat betref, het vir die soveelste keer die afgelope paar jaar aan die lig gekom.

Volgens ‘n Anonieme bron van die area, is ‘n pastoor van die Phalaborwa omgewing een van die belangrikste rolspelers in die verkoop en herverkoop van jagregte in hierdie gebied.

Die probleem lê in die bewaringsgebied Letaba Ranch Wildreservaat. Vir dekades reeds doen gerugte die ronde van onwettige jag en stropery in dié reservaat. Wat hierdie onwettige jagtery erger maak is die feit dat daar geen heining tussen Letaba Ranch en die Kruger Nasionale Park is nie. In effek beteken dit hierdie jagtery vind binne die wildtuin plaas.

Dokumente en klankopnames wat ‘n spoor van onwettighede blootlê, het in die Herald se besit gekom. Hierdie bewyse kan van die grootste name in die omgewing, sowel as in die wyer jag industrie en selfs in die provinsiale regering inkrimineer.

Bewysstukke in die Herald se besit, dui onder andere op ‘n korrupte verhouding tussen verskeie bekendes in Phalaborwa se jag gemeenskap en ene Timothy Malatji. Malatji, ‘n pastoor van die area, maar ook die voorsitter van die Selwane Community Property Association (CPA), vorm die middelpunt van ‘n netwerk van betalings en kontrakte wat oor dieselfde stuk grond se jagkonsessie gaan; die plase binne die Letaba Ranch gebied, waarop die CPA ‘n grondeis ingedien het.

Die eis, hoewel reeds ingedien, is weens verskeie ander eise wat tans hangend is, steeds nie toegestaan nie, hoewel die gemeenskap ‘n deel van die jag regte vir die grootste deel van Letaba Ranch beheer.

Volgens die bewysstukke betaal jagters, wat in die betrokke jagveld ‘n konsessie wil bekom, ‘n middelman wat dan op sy beurt die pastoor betaal.

Die middelman, ene Nicholas Malatji, is familie van die pastoor en is die enigste direkteur van Starain Konsultante. Starain Konsultante is dan ook die naam wat op kwitansies vir van die betalings verskyn.

Volgens die papierspoor het Glen Haldane, een van die eienaars van Gamehunters Africa in Junie ‘n somtotaal van R450 000 vir die jagregte in Letaba Ranch betaal. Hierdie totaal is opgebreek in drie verskillende transaksies.

Eerstens is op 10/06/2015 ‘n bedrag van R50 000 kontant aan albei Malatji’s betaal. ‘n Afdruk van ‘n kwitansie wat al die partye geteken het, is ook in die Herald se besit. Verder is nog twee elektroniese betalings aan Starain Konsultante gemaak: Op 12/06/2015 is die bedrag van R250 000 vanaf Game Hunters Africa se rekening oorgeplaas. Op 13/06/2015 is nog ‘n bedrag, hierdie keer R150 000 deur Game Hunters Africa aan Starain Consultants gemaak. ‘n Afdruk van die bewys van betaling vir beide laasgenoemde transaksies is ook in die Herald se besit.

“At the moment I am hesitant to comment. I have already been to see my lawyer and we are on the verge of starting our own legal proceedings against everybody involved,” het Haldane aan die Herald gesê.

Na vele oproepe het die Herald vir Nicholas Malatji telefonies in die hande gekry. Malatji was ontwykend en het al die bewyse as vervaardigde en valse bewyse afgemaak. Hy het ook herhaaldelik probeer uitvis wie die Herald se bronne kan wees. Malatji beweer hy het niks met enige transaksies in die jag industrie te make nie.

Volgens hom is hy in die konstruksie bedryf en was die R450 000 wat Haldane aan hom oorbetaal het bloot konsultasie fooie. Wat hy vir Haldane help bou het, wou hy egter nie sê nie.

Die Herald het onder andere ‘n opname in sy besit waarin Nicholas Malatji duidelik in sy eie woorde die roete beskryf wat die betalings neem. Volgens Malatji, betaal mense wat jagregte wil bekom hom ‘n groot bedrag per konsessie per kwartaal.

Op sy beurt betaal hy dan ‘n gedeelte van die geld oor aan Timothy Malatji en dan ‘n gedeelte aan Kaizer Mdluli. Mdluli, die senior bestuurder van grond in staatsbesit vir die Capricorn area, wie onlangs van sy pligte onthef is, maar weer aangestel is totdat ‘n interne verhoor gehou kan word, betaal volgens Malatji dan weer op sy beurt ‘n gedeelte aan Tele Maphoto. Maphoto is die hoof grondeise kommisaris van Limpopo.

Die Herald het in sy besit ‘n afdruk van jag regte wat na bewering deur die Departement van Rural Development & Land Reform aan die Selwani CPA toegeken is. Timothy Malatji was die middelman hier en sy naam verskyn bo aan die dokument.

Volgens E.R. Dowelani, waarnemende hoof van die Rural Development & Land Reform kan hy nie tans kommentaar lewer nie, aangesien daar op die oomblik ‘n interne ondersoek na die beweringe aan die gang is. Wat hy egter wel kon sê is dat sy departement geen jagregte uitreik in hul ontwikkelingsgebiede nie.

Na verskeie oproepe na rolspelers in die Phalaborwa jagkringe, blyk hierdie maar die oortjies van die seekoei te wees.

Buiten Haldane se handelinge met die Malatji’s, blyk nog jagmaatskappye met hierdie twee paaie te gekruis het.

Teen druktyd kon die Herald nog nie daarin slaag om kommentaar van Ledet of verskeie van die eienaars van jagregte in die reservaat te kry nie.

Inwoners met meer inligting oor hierdie storie word versoek om die Herald via e-pos by hendrik@herald.co.za te kontak.

Hou gerus oor die loop van die volgende paar weke die Herald dop, vir meer inligting soos die storie verder ontvou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version