Straatligte stiuasie steeds deurmekaar

Twee weke gelde het die Herald berig oor die stukkende straatligte van Tzaneen wat besig is om in 'n krisis te ontaard.

Intussen het ‘n inwoner (en oud werknemer van die Groter Tzaneen Munisipaliteit) beweer dat die tegniese span van die GTM se Elektriese Departement nie die waarheid praat nie. Die tegniese span het beweer hulle doen hulle werk, maar die ligte breek vinniger as wat hulle, met ernstige tekorte aan voete op die grond, dit kan regmaak. Volgens die inwoner het hy reeds sedert Januarie die stukkende ligte in sy straat rapporteer en daar het dadels van gekom. Skielik, na die berig oor die straatligte in die koerant verskyn het, was daar die volgende dag mense om dit reg te maak.

Voorts beweer dié inwoner (wie se identiteit aan die Herald bekend is) dat die persoon in beheer van die regmaak van straatligte self by die Unie betrokke is en dat hy dus tydens kantoor-ure hom meer by Unie se werk bepaal as by die instandhouding van belangrike infrastruktuur.

Volgens Vutivi Makhubele, ‘n woordvoerder van die GTM, is die munisipaliteit besig om aandag aan die straatligte kwessie te gee. Verder is die menings van inwoners, sowel as dié van munisipale werknemers, geensins verteenwoordigend van die munisipaliteit nie.

Die bewerings dat poste steeds gevries is en geen nuwe mense aangestel word nie, is ook deur Makhubele bevestig. Volgens haar is daar egter ‘n dispuut oor salaris ongelykhede wat deur die Unie geregistreer is, wat eers aangespreek moet word. Deloitte en Touché is aangewys om werk evaluasies te doen om sodoende eers die ongelykhede aan te spreek voor nuwe mense aangestel kan word. Wat die bewerings oor die Unie lid betref, ontken Makhubele dit ten sterkste. Volgens haar is daar geen werknemer van die GTM wat vir hierdie soort pligsversuim aangemeld of gerapporteer is nie en daarom kan die GTM nie bloot op gerugte kommentaar lewer nie. Die saak sal wel verder deur die GTM ondersoek word.

Bestuur van die GTM het egter volgens Makhubele reeds besluit dat kritiese en belangrike poste so gou moontlik gevul sal word en inwoners kan waarskynlik binnekort advertensies in die verband verwag.

Exit mobile version