Plaaslike SAPD lede twee keer binne ‘n week aangeval

Twee plaaslike SAPD lede het in die hospitaal beland na hulle Vrydag, naby The Oaks, deur lede van die gemeenskap aangerand is toe 'n arrestasie lelik skeefgeloop het.

Een lid was lig beseer en is intussen ontslaan, maar die ander lid is ernstig beseer en is steeds in ‘n hospitaal in die area.

Volgens ‘n bron in die SAPD (wat verkies om naamloos te bly) is ‘n SAPD offisier en drie lede van die speurtak deur woedende inwoners naby The Oaks vasgekeer, toe hulle ‘n inwoner wou gaan arresteer het.

Inwoners het van die SAPD lede aangerand in ‘n poging om hul wapens af te neem en hulle met klippe en ander werptuie bestook.

Volgens die bron, was die SAPD offisier op die toneel se kalmte deurslaggewend in die lede se ontsnapping.

Dit het uiteindelik 20 SAPD voertuie geneem om die vasgekeerde lede te gaan red.

Volgens Luitenant Kolonel Ngoepe, woordvoerder van die SAPD, was die lede van die speurtak nie in uniform nie en het die gemeenskap hulle vir inbrekers aangesien.

Sake van aanranding op ‘n polisielid sowel as ontvoering is aanhangig gemaak.

In ‘n ander onverwante voorval die naweek, het lede van die SAPD ‘n moordverdagte in Nkowankowa gaan arresteer.

Die gemeenskap wou egter nie toelaat dat lede hom van die toneel verwyder nie en die SAPD het weer die teiken van klipgooiers geword.

Volgens Ngoepe, het die gemeenskap toe opgeruk na Nkowankowa se polisiestasie waar die verdagte aangehou is.

Hulle het strate om die stasie met klippe en ander rommel blokkeer en die stasie is ook met klippe gepeper.

Die SAPD het egter gou die situasie ontlont en dinge was vinnig weer normaal in die area. Die verdagte is van moord aangekla en sal binnekort voor Ritavi se hof verskyn.

“Die gemeenskap moet nie die wet in eie hande probeer neem nie en die gereg sy gang laat gaan. Lede van die gemeenskap wat enige inligting in verband met hierdie twee voorvalle het, moet dit asb dadelik by die naaste polisiestasie gaan rapporteer,” aldus Luitenant Kolonel Ngoepe.

Exit mobile version