Editor's choiceLocal newsMunicipalNews

Miljoene rande in water gegooi

Tzaneen se Munisipale swembad is steeds nie oop vir publieke gebruik nie en ontstelde inwoners het hierdie week die Herald se foonlyne vuurwarm gebel in die hoop om uit te vind wanneer hulle uiteindelik kan gaan lyf natmaak.

Volgens Vutivi Makhubele, van die Groter Tzaneen Munisipaliteit, sal dit hopelik hierdie jaar wees, maar daar is steeds nie ‘n datum vasgemaak nie.

Die rede vir hierdie oponthoud is egter steeds nie duidelik nie.

Volgens Makhubele is daar logistieke kwessies wat eers uitgesorteer moet word en niemand kan sê hoe lank dit sal neem nie.

Die hoofrede tans is die gebrek aan lewensredders.

Waar is die lewensredders?
Waar is die lewensredders?

Dit was oorspronklik ook gegee as rede toe die oorspronklike opening van die swembad ‘n maand gelede uitgestel is.

Die swembad is intussen reeds een keer gebruik sedert dit herstel is, toe plaaslike en besoekende skole ‘n swemgala daar gehou het.

Volgens Makhubele het die gala plaasgevind sodat die munisipaliteit die swembad kon toets (om seker te maak alles is in orde en die swembad is geskik vir publieke gebruik) voor dit oopgestel word vir die publiek.

Verskeie gerugte doen egter die ronde oor die swembad.

Volgens sommiges, lek die swembad en daarom is dit steeds nie oop nie.

Gee my krag Tzaneen wil swem.
Gee my krag Tzaneen wil swem.

Die GTM ontken hierdie egter ten sterkste.

Ander meen weer daar is ‘n elektriese probleem. Volgens Makhubele is ‘n uitdaging met die elektrisiteit tydens die gala geïdentifiseer, maar is dit intussen reggestel en die swembad se elektrisiteit status is tans in ‘n goeie toestand.

Die Herald het onlangs berig dat die GTM steeds verskeie oop poste het, maar dat baie van hierdie poste steeds gevries is weens ‘n dispuut oor salaris ongelykhede met die Unie.

Op die vraag wat dan van die werkers geword het, wat by die swembad diens moet doen en of hulle tydelik na ander departemente toe geskuif is, het Makhubele soos volg geantwoord: “Die werkers wat veronderstel is om by die swembad te werk is sekuriteitswagte wat reeds daar is, lewensredders (wat, soos reeds genoem, nog aangestel moet word) en ‘n kassiere wat reeds by dieselfde departement van die munisipaliteit werk.”

Die Herald het egter verlede Donderdag self by die swembad gaan besoek aflê.

Die hekke was gesluit en die Herald se joernaliste kon nie toegang tot die perseel kry nie.

Voor die ingang het twee sproeiers (tydens hierdie ernstige droogte wat die land tans ervaar) gespuit dat die water in die straat afloop.

Is daar dan nie water beperkings nie? Die tuin voor die swembad se ingang word lekker natgemaak. Die foto is om omstreeks 15:00 die middag geneem.
Is daar dan nie water beperkings nie? Die tuin voor die swembad se ingang word lekker natgemaak. Die foto is om omstreeks 15:00 die middag geneem.

Deur die heining was ‘n hele aantal van GTM se werkers duidelik sigbaar waar hulle binne die gronde by piekniektafels rondgesit het.

Voorts was die kragboks van die gebou in ‘n vernielde toestand en die meter het glad nie geloop nie.

Dit is vreemd dat ‘n fasiliteit wat oor die R11miljoen gekos het om te bou se opening onbepaald uitgestel kan word oor iets eenvoudigs soos ‘n gebrek aan lewensredders.

Inwoners wag intussen ongeduldig vir hierdie oase om sy hekke oop te maak.

Hou gerus die Herald se webwerf dop vir verdere verwikkelinge in hierdie verband.

Piekniek tyd? GTM werkers binne die perseel.
Piekniek tyd? GTM werkers binne die perseel.

 

Related Articles

Back to top button