CrimeLocal newsNews

Gewapende rowers in hulle spore gestuit

Vinnige optrede deur die polisie en Northern Sekuriteit het gewapende rowers Vrydagmiddag in hulle spore gestuit toe hulle 'n winkel in Tzaneng Mall wou beroof.

Twee is inhegtenis geneem, ‘n voertuig met ‘n polisie radio, antenna en staatsammunusie daarin is voor ‘n bank in Danie Joubertstraat gevind.

Die SAPD, in samewerking met Northern Sekuriteit en lede van die gemeenskap, kon daarin slaag om nie net ‘n rooftog te fnuik nie, maar sommer ook twee uit die drie verdagtes aan te keer. Volgens Marius Jacobs, van Northern Sekuriteit, het die verdagtes probeer om Total Sports in die Tzaneng Mall te beroof, maar flinke optrede deur lede van die gemeenskap, asook ongewapende wagte op die toneel, het die verdagtes se planne in die wiele gery.

Volgens Jacobs, het die wagte en lede van die gemeenskap, die rowers te voet agterna gesit toe hulle laat spaander het. Die rowers het vyf skote op hulle geskiet, maar niemand is getref nie, hoewel ‘n geparkeerde bakkie wel skade opgedoen het.

Een van die rowers het in ‘n stegie naby Standerd Bank ingevlug en in die Word Miracle kerk gaan skuiling soek. By Northern se aankoms het hulle die SAPD voertuie voor die kerk sien staan en dadelik ingegaan om hulp te probeer verleen.

Die SAPD en Northern Sekuriteit het die kerk deursoek en gesien die gordyne beweeg. Op hul bevel het ‘n ongewapende man met sy hande in die lug van agter die gordyne verskyn. Hy het hul toe gaan wys waar hy sy wapen versteek het. Volgens Jacobs is die ammunisie wat die verdagte gebruik het, waarskynlik van millitêre- of SAPD oorsprong. Die verdagte het verder die SAPD na die voertuig geneem wat hy en sy makkers gebruik het.

Groot was almal se skok toe hulle in die Toyota Corolla (met GP nommerplate) op ‘n SAPD radio afkom. Die vermoede bestaan dus tans dat hierdie verdagtes deel van ‘n groot en goed georganiseerde sindikaat is, met kontakte in die SAPD of die weermag. SAPD lede het later Vrydagaand ‘n tweede verdagte in Polokwane voorgekeer nadat die eerste verdagte gepraat het. In ander misdaad nuus, het rowers Vrydag ‘n voertuig by Soetdoring Woonstelle probeer steel. ‘n Buurman het egter onraad gemerk en Northern Sekuriteit geskakel na sy hondjie onophoudelik begin blaf het. Hy het drie verdagte mans oor ‘n muur sien spring toe hulle gevlug het. By hul aankoms op die toneel het Northern Sekuriteit op ‘n gebreekte hekmotor afgekom, asook die voertuig (‘n Mazda) wat die verdagtes probeer steel het. In wat vermoedelik ‘n verwante voorval kan wees, is nog ‘n Mazda in Sirkelweg gesteel. Volgens Jacobs is dit vermoedelik dieselfde verdagtes as dié wat by Soetdoring Woonstelle die hasepad gekies het. Lede van die gemeenskap word versoek om hul oë oop te hou vir die gesteelde Mazda 626 met registrasie nommer BRJ796MP.

Mense word egter gemaan om nie self die rowers te probeer aankeer, sou hulle die kar gewaar nie, maar om eerder die SAPD of Northern Sekuriteit te kontak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button