Top toekenning vir Hoedspruit se sakekamer

DIE HOEDSPRUITSE Sakekamer is Vrydag deur die Afrikaanse Handels Instituut (AHI) aangewys as die beste Opkomende Sakekamer in Suid-Afrika en die toekenning is deur bestuurslede van die Kamer in ontvangs geneem.

Die toekenning is tydens die jaarlikse Kongres van die AHI in George, Wes-Kaap, gemaak.

In die proses het Hoedspruit talle ander vergelykende Sakekamers in die land uitgestof en bevestig dat die bestuur en lede puik werk in die omgewing doen en waarde toevoeg tot die ekonomiese welvaart en ekonomiese klimaat van die streek.

Sara Dawn Bergs, voorsitter van die Hoedspruitse Sakekamer, het die toekenning van dr Ernest Messina, hoof uitvoerende beampte van die AHI, ontvang.

“Die Hoedspruitse Sakekamer is ‘n voorbeeld vir baie ander, selfs groter. Sakekamers in die land en die gemeenskap is bevoorreg om ‘n span toegewyde, gemotiveerde bestuurslede te hê wat bereid is om baie ure van hul persoonlike tyd op te offer in belang van die saak,” het Dr Messina gesê.

Die ledetal van die Sakekamer het die afgelope ruk dramaties toegeneem en verskeie projekte word op ‘n deurlopende grondslag in die gemeenskap gedoen.

Dit sluit in opgaar en opruim van vullis in die dorp, vergroening van die omgewing met aanplantings en onderhoud, sosiale geleenthede waar interaksie met lede plaasvind en ‘n rits ander inisiatiewe wat tot voordeel van die breër sakegemeenskap strek.

Bergs was baie beskeie in haar kommentaar oor die toekenning en het ‘n span sterk bestuurslede en ‘n ondersteunende gemeenskap die eer gegee daarvoor.

Exit mobile version