Local newsNews

Nuwe produk help met slaggate

Letaba Herald het 'n ruk gelede berig oor die manier waarop die Groter Tzaneen Munispaiteit se padwerkers slaggate in plaaslike paaie regmaak.

Volgens Adriaan Jacobs, ‘n senior superintendent vir paaie en stormwater, gebruik hulle deesdae ‘n nuwe produk van Tshete Asphalt in Polokwane.

Hierdie produk is nie net omgewingsvriendelik nie, maar kan ook in alle weersomstandighede aangewend word.

Werkers hoef ook nie, soos met die tradisionele bitumen mengsel, die vulsel eers ordentlik vas te stamp en te laat koud word, voor verkeer weer daaroor kan beweeg nie.

Inteendeel, die verkeer se gewig dra by tot die nodige kompaktering en die pad is bykans dadelik weer gereed vir gebruik.

Die munisipaliteit oorkom byna daagliks enorme uitdagings om die omgewing se paaie instand te hou.

‘n Gebrek aan geld, sowel as mannekrag, maak dit baie moeilik om die nodige aandag aan paaie te gee.

Tans is ‘n proses van voorkomende instandhouding, die enigste manier waarop slaggate en ander vorme van skade aan die paaie beheer kan word.

Baie paaie in die omgewing bestaan tans uit ‘n laslappie kombers van reggemaakte slaggate.

Die enigste manier om dit heeltemal reg te maak, is om meeste van hierdie paaie oor te bou.

‘n Nuwe teerpad kos deesdae ongeveer R2.5 miljoen per kilometer en net om die Groter Tzaneen omgewing se paaie oor te bou, sal die stadsraad ‘n geraamde R400 miljoen uit die sak jaag.

Hierdie is uiteraard ‘n enorme bedrag geld en in vandag se onstabiele ekonomiese situasie is dit iets wat waarskynlik nog lank nie gaan gebeur nie.

Related Articles

Back to top button