Editor's choiceLocal newsNews

Canservive is Woensdag in Tzaneen

Die Cancervive bewusmakingsrit is Woensdag in Tzaneen.

Die 5e jaarlikse Cancervive bewusmakingsrit vind plaas in September met die hoofdoel om gemeenskappe regoor die land aan die praat te kry oor kanker.

‘n Gevolg van meer as 65 kankeroorwinnaars, ondersteuners, media en nooddienste sal die 2 300km roete aanpak, en in dorpe aandoen om die inwoners te leer hoe om kanker op ‘n vroeë stadium op te spoor, en waar om toepaslike behandeling te verkry.

Die projek maak gebruik van uitvoerende kunste, musiek, poësie, dans en storievertelling om die boodskap van oorlewing oor te dra. Daar is te veel mense in ons land wat baie min of niks van kanker weet nie, maar om self die oorwinnaars se persoonlike ervaringe eerstehands te ervaar bring baie insig oor die siekte tuis.

Die groep verskaf nie slegs net feite oor die verskillende ‘skaam’ kankersoorte (die van die bors, prostaat, testikels, serviks, eierstokke en kolon) nie, maar moedig ook gesprekke hier rondom aan. Tesame met die daarstel van ondersteuningsnetwerke word die gemeenskappe dus toegerus om waarskuwingstekens te identifiseer, en ook om kankerpasiënte in hul midde te ondersteun.

Cancervive is ‘n spesiale bewustheids-­‐ en opvoedkundige projek van People Living With Cancer (PLWC), ‘n nie-­‐winsgewende organisasie gestig deur kankeroorlewendes.

Die projek is gewy aan die opvoeding rondom die vroeë opsporing van kanker, sowel as ondersteuning aan persone en hul families wat met die siekte saamleef.

Janie du Plessis, HUB van People Living With Cancer beklemtoon die enorme impak wat ‘n kankerdiagnose op ‘n persoon se lewe het.

“Ons probeer die boodskap tuisbring dat jy nie alleen is as jy skielik met kanker moet saamleef nie. Baie soorte kanker het ‘n uiters hoë oorlewingspersentasie indien dit vroeg genoeg gediagnoseer word. Ons maak ook seker dat daar ondersteuning is nadat ons aanbeweeg deur ons projek, Cancer Buddies, wat gesinne bystaan deur die realiteit van ‘n diagnose en behandeling.”

Oor die laaste 4 jaar het die Bewusmakingsrit meer as 180 000 mense in 8 provinsies en 7 tale bereik oor‘n afstand van meer as 10 000km.

Hulle sal Woensdag by Hoërskool Ben Vorster  aandoen om inwoners te leer hoe om kanker op ‘n vroeë stadium op te spoor, en waar om toepaslike behandeling te verkry.

Related Articles

Back to top button