Editor's choiceLocal newsMunicipalNews

Besoedeling in Tzaneen stuur op ekologiese ramp af

'n Ekologiese en ekonomiese ramp staar Tzaneen en omgewing in die gesig, indien daar nie dringend ingegryp word en iets aan die besoedeling in die middedorp gedoen word nie.

Die besoedeling by die ou parkeerarea in Tzaneen se middedorp, wat vir gebruik aan informele motorwerktuigkundiges toegewys is, is besig om hand uit te ruk.

Die omvang van die moeilikheid het sedert verlede jaar by die dag erger geraak, tot waar dit nou op die rand van ‘n ekologiese ramp staan.

Herald het via ‘n kontak in die plaaslike Sakekamer, in besit van lugfotos gekom, wat die skade aan die area duidelik uitwys.

Die area word byna daagliks bemors en bevuil sonder dat enigiemand vir een oomblik besef watter gevare hierdie besoedeling vir Tzaneen se groter prentjie inhou.

Erger nog, loop gebruikte olie in ‘n stroom af tot waar dit in die Letabarivier stort.

Dit veroorsaak groot probleme in die toekoms vir al die oewerboere, omdat die besoedelde water ‘n groot impak op hul oeste kan hê.

As mens in ag neem dat plaaslike boere reeds onder druk is weens die swartvlek siekte, wat veroorsaak dat hulle na ander markte oorsee moet begin soek, maak dit geensins sin om ‘n probleem wat verhoed kon word, by hierdie druk te voeg nie.

Die Tzaneen Sakekamer voel dit is dringend dat die stadsraad ingryp en iets aan hierdie besoedeling doen.
Die Tzaneen Sakekamer voel dit is dringend dat die stadsraad ingryp en iets aan hierdie besoedeling doen.

Die Letabarivier vloei ook deur die Nasionale Kruger Wildtuin, waar dit ernstige skade aan die brose ekologie kan aanrig. Hierdie soort besoedeling kan tot letterlik duisende vrektes onder die diere bevolking lei.

Die informele sakemanne wat op die perseel sake doen, hou ook nie meer by die toegewysde parkeer- en werkruimtes nie.

Dit skep probleme vir aangrensende besighede wanneer hulle aflewerings ontvang.

Vullis word ook sommer daar en dan langs die voertuie neergegooi, ten spyte van die groot industriële asblik (skip) by die ingang. Die rooi sinkhuisies, wat opgerig is om as stoorplek vir straatsmouse se eiendom te dien, het ook ‘n veilige stortplek vir gesteelde handsakke, beursies en ander verlore eiendom geword.

Dit alles ten spyte van talle pogings van plaaslike sakemanne om iets daaraan gedoen te kry.

Die betrokkenheid van die DA sowel as Solidariteit kon tot dusver geen hond haar-af maak nie en die gebied se toestand is al vir meer as ‘n jaar in dieselfde haglike toestand, indien nie erger nie.

Volgens die Sakekamer van Tzaneen is dit nou hoog tyd dat die munisipaliteit iets daaraan doen.

Die woordvoerder van die Groter Tzaneen munisipaliteit, Neville Ndlala, het Dinsdag op Herald se vrae reageer, deur te bevestig dat hy reeds met sy eie ondersoek oor hierdie probleem area besig is.

Kyk na die video hieronder:

Related Articles

Back to top button