CrimeEditor's choiceNews

Dapper optrede van jong meisie fnuik plaasaanval

Die optrede van ‘n dapper, oopkop 18-jarige meisie en die gesin se op en wakker hond, het waarskynlik Sondagaand ‘n plaasaanval tussen Tzaneen en Letsitele gefnuik.

Haar vinnige dinkwerk was moontlik die verskil tussen ‘n tragedie en net nog ‘n normale week op ‘n plaas in Suid-Afrika.
Volgens Marius Jacobs, van Northern Sekuriteit, het Sumarie Lombard (18) omstreeks 20:00 onraad gemerk toe hulle hond onophoudelik begin blaf het.
Haar pa, Hans Lombard, was uit om te gaan bosvarke jag en haar ma was reeds in die bed. Op pad na die jagveld het Lombard besef sy hond, Varkie, was steeds by hom en hy het hom huis toe gejaag.
Sodoende red hy toe waarskynlik sy gesin se lewens sonder dat hy dit besef.
Daargekom het Varkie dadelik die indringers gewaar en onophoudelik en woedend begin blaf.
Sumarie het, gewapen met ‘n haelgeweer, by die voordeur uitgestap en om die huis geloop om nader ondersoek te gaan doen.
Naby die waskamer (by die agterdeur) het sy skielik gevoel iets is beslis nie pluis nie en omgedraai om terug huis toe te hardloop.
Op pad het sy deur die waskamer se venster twee onbekende mans gewaar.
In die huis het sy eers die voordeur se veiligheidshek agter haar gesluit voor sy haar ma gaan roep het. Toe haar ma, Desire by die hek kom, was ‘n onbekende man besig om aan die hek te ruk.
Hy het ‘n handwapen in haar gesig probeer druk, maar toe hy die haelgeweer gewaar, het hy die hasepad gekies.
Intussen het Sumarie vir Ula Schoeman, ‘n onderwyser by Laerskool Tzaneen in die hande gekry en sy het op haar beurt weer vir Northern Sekuriteit gekontak, wat oudergewoonte binne minute op die toneel was.
Op die beeldmateriaal van hul geslotebaan kringtelevisie, kan mens sien hoe die twee onbekende mans, ongeveer vyf minute na die pa die plaas verlaat het, op hul hurke die opstal nader en by die waskamer ingaan.
“Hierdie meisie het beslis haar en haar ma se lewens, asook moontlik haar pa s’n, gered deur die hek agter haar te sluit,” het Jacobs gesê.
Verder het hy die publiek gemaan om eerder nie hul huise te verlaat as hul iets buite hoor nie. “Bly binne en bel Northern Sekuriteit en die SAPD,” aldus Marius Jacobs van Northern Sekuriteit.
Toe Herald teen Maandagmiddag 14:00 die toneel besoek het was daar nog niemand van die SAPD gewees om vingerafdrukke te neem nie.

Related Articles

Back to top button