Wilde jaagtog deur Tzaneen se strate

Personeel van Northern Sekuriteit was Donderdagoggend net voor 07:00 in 'n wilde jaagtog agter vermeende rowers aan betrokke.

Woensdag het hulle inligting ontvang oor drie gevalle by drie verskillende plaaslike banke, waar lede van die publiek by die Outomatiese Teller Masjiene (OTM) geroof is. Tydens die eerste voorval is ‘n onbekende vrou van R4 000 by Oasis winkelsentrum se ABSA OTM besteel. In ‘n verdere voorval is ‘n onbekende man van R1 000 by oasis se Nedbank beroof en in die derde voorval is ‘n onbekende man by Standerd Bank in die sakegebied se ATM van R2 000 besteel.

Northern Sekuriteit se personeel het, na die polisie aan hulle fotos van die verdagtes sowel as van hulle voertuig verskaf het, dit op hulle geneem om deur die dorp te ry en die sekuriteitsbeamptes by elke bank se tellermasjiene van die verdagtes te vergewis. Volgens Marius Jacobs, ‘n werknemer van Northern Sekuriteit, het hulle pas by hulle kantore gestop, toe die vermeende rowers in hulle wit Audi, sonder nommerplate, verby die kantoor ry. Northern se manne het dadelik in hulle voertuig gespring en die Audi begin agtervolg. Die verdagtes het egter die sekuriteitsvoertuig agter hulle gewaar en ‘n wilde jaagtog deur Tzaneen se strate het begin. Die verdagtes het in ‘n verskeidenheid van strate afgedraai en hul bes probeer om hul agtervolgers te verloor. “Hulle kon ons eers afskud toe hulle by ‘n rooi verkeerslig by vier karre teen die aankomende verkeer in verby gejaag het,” sê Jacobs. Volgens hom is die verdagtes se gesigte op die fotos duidelik sigbaar maar publikasie daarvan sal die polisie se kanse van ‘n suksesvolle uitkenningsparade strem. Die foto van die voertuig is egter beskikbaar en lede van die publiek word gevra om asseblief hul oë oop te hou en dadelik die SAPD of Northern Sekuriteit te kontak, sou hulle die verdagtes se voertuig gewaar. Volgens die SAPD is een van die verdagtes moontlik gewapen, so mense word gemaan om nie self te probeer om hulle aan te keer nie, maar eerder die SAPD of Northern Sekuriteit direk te kontak.

Exit mobile version