SAPD buig boompies terwyl hulle nog jonk is

Dit vat 'n groot man om 'n kleintjie op die regte pad te hou.

Kaptein Nemavhola van Limpopo SAPD se Korporatiewe Kommunikasie Eenheid is so ‘n man.

Nemavhola en sy manskappe reis dwarsoor Limpopo om hul opvoedingswerk onder ons plaaslike kinders te verrig.

Letaba Herald het voorverlede naweek, tydens die plaaslike Letaba skou, met Kaptein Nemavhola paaie gekruis en eerstehands ervaar hoe hierdie geduldige offisier met plaaslike kinders te werk gaan.

Volgens Nemavhola, is sy en sy eenheid se doel om klein kindertjies met betrekking tot samewerking met die SAPD, asook die gevare van misdaad op te voed en in te lig.

Eerstens is dit nodig om kinders uit areas, wat histories in vrees vir die SAPD gelewe het, as’t ware terug te bring na die SAPD se kraal toe.

Om hierdie doel te bereik werk verskillende eenhede van die polisie baie nou met mekaar saam.

Die welbekende Watervleuel en die Plofstof Eenheid neem gereeld deel as landelike skooltjies besoek word.

So verrig hulle ook ‘n rol van kinderbeskerming, deur die kleintjies die moets en moenies van vreemdelinge te leer.

Lesse soos om byvoorbeeld nooit in ‘n vreemdeling se motor te klim nie, word op ‘n vriendelike, amper speelse manier d.m.v. liedjies en dramatiserings oorgedra.

‘n Verdere deel van hulle werk is om die kinders aan te moedig om eendag ‘n loopbaan in die SAPD te volg.

Die wye verskeidenheid van moontlike werke in die Diens word uitgelig deur verteenwoordigers van die onderskeie eenhede wat met die kinders werk en gesels.

“Dit is nodig om die vrees vir die SAPD uit kinders te kry terwyl hulle nog jonk genoeg is.

Eendag is een van hulle dalk die slagoffer van misdaad en dan help dit niks as hulle te bang vir die SAPD is om dit te gaan rapporteer nie,” het kaptein Nemavhola aan die Herald gesê.

Exit mobile version