‘Arrestasie’ by Hoërskool Ben Vorster

Ben Vorster se skoolhoof is Maandagoggend 'inhegtenis' geneem op vyf 'aanklagte'

Chris Denysschen, hoof van die Hoërskool Ben Vorster, het op Sondag, 16 Augustus, sy verjaarsdag gevier.

Tydens die Vossies se saalopening op Maandag, 17 Augustus, is  Denysschen se verjaarsdag op luisterryke wyse gevier onder leiding van die nuutverkose studenteraad.

Twee studenteraadslede, geklee in polisie-uniforms, het met die geloei van ‘n sirene die saal binnegestorm en  Denysschen gearresteer op grond van die volgende aanklagte:

Hy is te goed vir die skool en te lief vir die Vossies.
Vir die handhawing van uitstekende orde en dissipline in die skool.
Vir die skep van wonderlike geleenthede vir elke Vossie, ongeag agtergrond en vermoë.
Vir die toegewydheid, lojaliteit en entoesiasme waarmee hy die skool lei.
Vir die kaping van ‘n plek in elke Vossie se hart.

Na aanhoor van die aanklagte teen hom, is Denysschen skuldig bevind, uit die saal gelei en die res van die dag bederf met onder andere ‘n ontbyt saam met sy vrou, Elzana by die Olive Tree koffiewinkel.

Denysschen se dagverloop het beslis ‘n ander rigting ingeslaan as wat hy beplan het, maar daarmee wil die Vossies hom net ‘n wonderlike nuwe lewensjaar toewens en hom bedank vir wat hy vir Vossieland beteken.

Exit mobile version