Local newsNews

Baba entstof steeds baie skaars

Daar is steeds geen nuwe voorraad van die TB entstof vir pasgebore babas plaaslik beskikbaar nie.

Verlede week het die Letaba Herald berig dat die voorraadvlakke van die TB enstof vir pasgebore babas landwyd gevaarlik laag raak en in sommige areas reeds op is. Intussen is Macks Lesufi, provinsiale woordvoerder van die Departement van Gesondheid, op die webwerf van die Northern Review aangehaal waar hy beweer dat dit glad nie so is nie. Volgens Lesufi was die tekort aan TB entstof (GCB) weke gelede ‘n probleem, maar dit is reeds verlede week reg gestel. Die klinieke en hospitale wat probleme ondervind, het volgens Lesufi reeds nuwe voorraad begin ontvang.

“Die TB entstof het ‘n paar uitdagings aan die verskaffingskant gehad, maar nuwe voorraad het reeds verlede week hospitale en klinieke begin bereik. Die groot probleem was ‘n wêreldwye tekort aan die rou grondstowwe wat tydens vervaardiging gebruik word. Die Suid-Afrikaanse regering het voorraad ingevoer en die Nasionale Departement van Gesondheid was met hospitale en klinieke in verbinding om seker te maak rekords word gehou van alle babas wat nie die entstof kon kry nie. Daar is dus ‘n plan in plek om die babas se inentings in te haal,” aldus Lesufi.

Volgens dr Gary Middleton, van Tzaneen se Drs Spies en Vennote, is dit egter nie die waarheid nie. Hy moes Woensdag (05/08) nog ‘n nuwe moeder en haar pasgebore baba by Tzaneen Mediclinic ontslaan sonder dat die baba entstof kon kry. Dr Margot Cloete van die staatshospitaal in Oudtshoorn sê daar is steeds by hulle geen voorraad beskikbaar nie. So ook, volgens dr Johann Snyman, van Heidelberg in Gauteng, is daar by hulle geen voorraad meer beskikbaar nie. Dr Snyman sê egter daar is wel gerugte van lig aan die einde van die tonnel. Nadat hul van verskaffer verander het, wag hulle nou vir nuwe voorraad wat na bewering reeds vanuit die buiteland bestel en ontvang is. Die voorraad moet egter eers ‘n onbekende tydperk in kwarantyn lê. Volgens suster Wendy Coleman, van Tzaneen Mediclinic, het hul nuwe voorraad van die GCB entstof verlede week al verwag, maar dit is steeds nie afgelewer nie. Volgens Dr Ellen Hancke van Vryheid in Natal, het hul hospitaal geen voorraad oor nie. ‘n Ruk gelede het hulle genoeg enstof vir omtrent 50 babas ontvang. Hierdie voorraad is egter reeds op en hul wag al ‘n geruime tyd vir nog aflewerings.

Dus is dit na slegs enkele oproepe duidelik dat hierdie ernstige tekort nie slegs ‘n plaaslike probleem is nie, maar wel steeds ‘n landswye kwessie. Natalie Kirstein, ma van klein Anais, wat verlede week op Herald se voorblad verskyn het, kon intussen geholpe raak by die plaaslike staatskliniek. Volgens haar is hulle voorraad egter ook aan die kwyn met geen nuwe aflewering tans op die horison nie.

Na talle probeerslae het die Herald uiteindelik weer mnr Macks Lesufi bereik, maar hy het die telefoon na ‘n kort gesprek doodgedruk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button