‘n Paar gedagtes oor vroue

Ds Chris Zietsman oor vroue:

Ek google ‘n tydjie gelede wie die 10 mees invloedryke vrouens ooit is. Wat my oor die ranglys opgeval het, is die stryery en verskille in opinie van mense.

Jy kan mos dink – wie laat jy uit en wie sluit jy in? Marié Curie en Moeder Teresa is bv afwesig!

Ten spyte van die feit dat die konstitusie van die VVO gegrondves is op die beginsel van gelyke regte vir almal (geslag inkluis,) moet vroue vandag nog in baie kulture en samelewings aanvaar hulle is minderwaardig.

En tog hou vrouens jou nooit op verras nie. Na die Columbia pendeltuigramp in Januarie 2003 was NASA se reputasie op die spel. In ‘n grootliks manswêreld kan ons aanvaar dat hulle met die eerste sending daarna net die heel bestes sou vertrou. Wie was die bevelvoerder van Discovery? Mevrou (Kolonel) Eileen Collins!

Die sending was ‘n reusesukses.

Ekself werk in die kerk. Daar dink almal ook nie noodwendig dieselfde oor die vroue-geslag nie. Maar ek wil versigtig, dog eerlik waag deur te sê dat as jy vrouens uit die strukture sou haal, die huis sleg inmekaar gaan tuimel!

Lees maar die Bybel. Hulle is daar. In die Ou Testament is daar Mirjam, Israel se eerste vroulike leier, Hanna, Abigail en die profetes Gulda. In die eerste Christelike gemeentes kry ons vir Febe, Priska, Maria, Trifena en Trifosa, Euodia, Sintige. Daar is meer.

Laat ons ook onthou: Vrouens was die eerste getuies van Jesus se opstanding!

Die volgende staaltjie moet baie mans dalk ter harte neem:

In Januarie 1960 het ‘n verslaggewer van die London Standard Winston Churchill genader: “Sir Winston, what is your comment on the prediction made the other day that in the year 2 000 women will rule the world?’ Churchill se knorrige reaksie:

“They still will, will they?”

Mooi bly

Exit mobile version