Editor's choiceLocal newsNews

TB en Polio entstof landswyd byna gedaan

Die voorraadvlakke van beide die entstof wat aan pasgebore babas toegedien word om hulle teen Tuberkulose te beskerm sowel as Polio druppels is tans by hospitale en klinieke in die Tzaneen omgewing gevaarlik laag.

By verskeie staats- en privaat hospitale is daar niks oor nie.

Hierdie tekort is besig om landwyd kop uit te steek.

Tuberkulose is ‘n siekte wat jaarliks miljoene lewens bedreig.

Ook in Suid-Afrika neem hierdie siekte gevaarlike afmetings aan.

Volgens die Departement van Gesondheid sterf amper 20 000 Suid-Afrikaners jaarliks hieraan.

Wanneer ‘n nuwe mensie sy of haar eerste asempie skep, is hy of sy reeds in gevaar van hierdie bakteriële indringers.

Juis daarom word die Tuberkulose entstof (bekend as BCG) en die Polio druppeltjies in meeste gevalle net na die geboorte reeds in die hospitaal toegedien.

Wanneer die entstof egter onbeskikbaar is, loop die nuwe baba die gevaar om ernstig siek te word.

Volgens dr Gary Middleton van Spies en Vennote het die mensdom Polio lank gelede reeds feitlik uitgewis en daarom is dit skokkend dat medici deesdae weer hier-en-daar ‘n geval kry.

Hierdie terugkeer van Polio is egter slegs in ontwikkelende lande die geval.

By ons, in Afrika is moeilike sosio-ekonomiese toestande waarskynlik een van die groot redes vir die terugkeer van Polio.
“Beide entstowwe word ingevoer en die probleem lê nie op plaaslike of provinsiale vlak nie, maar waarskynlik by die regering,” aldus, dr Middleton.

Volgens dr Margot Cloete van die Oudtshoorn Hospitaal is hul voorraad van die BCG enstof ook op.

Daar is ook geen lig aan die einde van die tonnel nie, omdat niemand by die Departement van Gesondheid enige duidelikheid kan verskaf oor wanneer daar weer voorraad sal wees nie.

By navraag hieroor het die plaaslike woordvoerder van die Departement van Gesondheid, Letaba Herald na Nasionale vlak verwys.

Teen saktyd kon hulle steeds geen antwoorde verskaf nie.

Ouers wat beplan om self entstof by hospitale in groter stede te gaan haal het ook ‘n probleem.

Die teenliggaampies verslaan vinnig as die “koue ketting” gebreek word.

Die entstof is dus niks werd teen die tyd dat dit ons plaaslike medici bereik nie.

Volgens dr Middleton is die beste raad om maar jou kind tuis te hou en openbare plekke sowel as groot hoeveelhede vreemdelinge te vermy.

Hy noem spesifiek selfs iets so onskuldig soos om jou kleinding saam te neem winkelsentrum toe.

TB versprei deur die lug en daarom het die ouers geen beheer oor watter kieme hul kinders in openbare plekke mee in aanraking kom nie.

Ouers word gemaan om tog hul babas eerder tuis te hou totdat daar weer entstof beskikbaar is.

Hoe die entstof werk: As die liggaam aan so ‘n indringer kiem blootgestel word reageer die immuunstelsel deur teenliggaampies te vervaardig.

Hierdie teenliggaampies beveg dan die ongenooide gas. ‘n Entstof is in werklikheid bloot ‘n bitter klein dosis van die indringer wat dit moet beveg.

Die dosis is heeltemal te klein om self die gasheer liggaam siek te maak, maar groot genoeg om immuniteit daarteen op te bou.

Party inentings moet opgevolg word deur verdere dosisse ten einde totale immuniteit te verkry.

Eenmalige inenting is egter meestal genoeg om die liggaam te beskerm.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) red inenting jaarliks meer as drie miljoen lewens.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button