Editor's choiceEntertainmentLifestyleLocal newsNewsSchool sportSport

Koors breek uit by Klaseriedam

Dit is ons plig as die bestuur van Klaseriedam om alle gereelde besoekers en hengelaars van Klaseriedam te waarsku dat daar weer eens 'n allemintige koors epidemie uitgebreek het by Klaseriedam.

Deeglike en indiepte navrae deur die bestuur het aan die lig gebring dat mense moet oplet vir die simptome van die koors.

Vriende, mans en vrouens van Klaseriedam hengelaars moet uitkyk vir die volgende simptome:

1. Die hengelaar kry so ‘n droomagtige uitdrukking op sy/haar gesig, asof hy/sy droom van dinge wat nog gaan kom, of wat alreeds in die verlede gebeur het.

2. Die hengelaar kry skielik sulke spastiese armbewegings asof hy/sy die grootte van visse aanwys.

3. Die hengelaar praat aanhoudend van groot en klein karpe wat hy/sy al gevang het of nog gaan vang.

4. Die hengelaar kan nie ophou verduidelik hoe hy/sy aas en grondvoer voorberei nie.

5. Hengelgerei word skielik op die onmoontlikste tye uitgepak en skoongemaak.

6. Katrolle word ge-olie.

7. Nuwe lyn word ten duurste aangekoop en op katrolle gelaai.

8. Nuwe hoeke word gebind.

9. Stroppe word voorberei.

10. Tigernuts word geweek, gekook en gegeur.

11. Opblaasbootjies en kanoes word reggemaak.

12. Elektriese bootmotortjies word gediens en batterye word gelaai.

13. Begrotings word opgestel en oorskrei.

14. Kampkos word beplan.

15. Tente en karavane word nagegaan en skoongemaak.

16. Gasbottels word hervul en elektriese ligte en koorde word nagegaan

Ja, dis alles tekens dat die groot kompetisiekoors ‘n hengelaar beetgepak het.

Daarby kom natuurlik ook die enorme karpkoors en om alles net nog erger te maak, kom die geldkoors ook nog by.

Wat veroorsaak hierdie koors?

Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat die jaarlikse Klaseriedam 40 uur uithou karpkompetisie eersdaags weer plaasvind, vanaf 17:00 op Vrydag 31 Julie tot om 09:00 op Sondag 2 Augustus.

Dit is vanjaar die tiende herdenking van hierdie kompetisie en om dit te vier word daar vanjaar so tussen die visvangery deur, gedurende die dag op Saterdag 1 Augustus, ‘n gratis bosveld sosatie spitbraai aan al die deelnemers gebied.

Alle metgeselle van die deelnamers, wat nie aan die kompetisie deelneem nie, kan ook saam eet teen slegs R20 per kop.

Pap en sous sal ook beskikbaar wees. Nie sleg nie, of hoe?

Dit verklaar dan die uitbreek van die kompetisiekoors, maar waar kom die karpkoors en die geldkoors dan vandaan?

Wel, die karpkoors word waarskynlik aangevuur deur die goeie karpvangstes van die afgelope paar maande.

Nie net was die jarelange rekord van 20,7kg verbeter na 21,3kg nie, daar was ook heelwat ander knewels van 12kg tot 16kg uitgetrek.

Om alles te kroon het ‘n hele paar monsterkarpe van 17kg tot 19kg ook uitgekom.

Goeie nuus is ook dat daar heelwat kleiner karpies van tussen 500gram en 4kg gevang was.

Dit laat mens uitsien na die volgende paar jare wanneer hierdie outjies groter word.

Dit bly steeds ‘n feit soos ‘n koei dat Klaseriedam van die grootste karpe landswyd huisves.

Koos van Rensburg het een so ‘n bielie gehaak hier teen 18:30 se kant op Vrydag 29 Junie.

Na ‘n halfuurlange gespook het hy die knewel tot by die kant gebring, maar met die skepslag toe besluit ta hy gaan nie hierdie keer model speel vir ‘n fotosessie nie, en hy gooi sy vet lyf in trurat, en hy trek Koos se hoek reguit, en daar gaan hy, terug diepwaters toe.

Koos vertel, met ampertjies ‘n traan in die oog, dat hy baie hartseer was, want in al sy jare van karphengel, het hy nog nooit so ‘n groot karp gesien nie.

Nou, iemand wat vir Koos ken, sal weet dat hy nie meer vandag se kind is nie, en hy het al oral landswyd in all damme groot goeters uitgetrek.

Wat die geldkoors betref, is dit geen wonder dat hy hierdie keer so duidelik hier by Klaseriedam uitgebreek het nie.

Om die tiende herdenking van die kompetisie te vier is al die prysgelde drasties verhoog.

Die grootste karp sal ‘n allemintige R15 000 aan iemand besorg.

Die tweede grootste karp dra ‘n prysgeld van R10000 en die derde swaarste karp is R5 000 werd.

Die unieke prys vir die kleinste karp beloop R3 000.

Boonop is daar ook nog pryse van R2 000 elk vir die swaarste baber en kurper onderskeidelik.

Die gelukkige trekkings belowe ook om weer eens watertandlekker te wees.

Bo en behalwe die lekker items wat aangebied word, word daar ook beplan om vyf trekkingspryse van R1 000 elk in kontant uit te loof.

Geen wonder die geldkoors loop so sterk hier op Klaseriedam nie.

Goeie nuus vir almal wat hierdie aansteeklike koors opgedoen het, is dat Hennie en Annet by die dam ‘n kuur vir die koors ontdek het.

Al wat nodig is om die koors af te skud, is om te kom deelneem aan die kompetisie.

Genesing word gewaarborg. Skakel hulle sommer nou by 0157932831, 0783094995 of 0786840555.

Alles in ag genome, blyk dit dat hierdie jaar se kompetisie soos altyd een van die grotes op die landswye hengelkalender gaan wees.

‘n Feit wat soos ‘n paal bo water uitstaan, of liewer, wat soos ‘n groot karp wat in Klaseriedam rondswem, is dat lekker nog nooit sleg was nie.

Inskrywings stroom in en dit sal net jou eie skuld wees as jy nie kom deelneem nie.

Related Articles

Back to top button