Tzaneen se inwoners het groot harte

Peter van Biljon skryf:

Dit is met ‘n breë bors dat ek die brief vandag skryf.

Dit was verblydend om ‘n brief te kon lees in Letaba Herald van ‘n inwoner van Johannesburg wat net met groot lof oor Tzaneen en sy vriendelike gemeenskap skryf.

Hy het almal bedank nadat hy en sy seun se voertuig onklaar geraak het in Magoebaskloof en vir almal betrokke het hy net die grootste waardering gehad.

As ‘n oud inwoner het ek al gesien hoe ons gemeenskap soos een man inspring en help waar hulle kan.

Ek dink hier aan die Marchelle van Vuuren voorval. ‘n Facebook gebedeblad en fondsinsamelings geleenthede.

Wanneer iemand dringend mediese geld nodig het, staan die gemeenskap saam om te help waar hulle kan, al kan hulle net R10 bydra. Dit is die gedagte wat tel en elke bietjie help.

Wanneer iemand op Facebook sê dat hulle ernstig siek is..wil almal of help waar hulle kan of daar is blymoedigende boodskappe.

Ons is ‘n dorp om op trots te wees en kan rus in die wete dat daar hulp iewers uit elke hoek van ons pragtige gemeenskap sal wees.

‘n Mens wil niemand uitsonder nie, maar twee mense, na my insiens wat ‘n pluimpie verdien is Melissa Strydom en Marius Jacobs.

Die twee sal uit hulle pad gaan om onbaatsugtige werk aan te pak en alles vir ‘n goeie doel.

In Melissa se geval altyd liefdadigheid en Marius wat ons gemeenskap veilig probeer hou met sy Watchdog inisiatief.

Ons Lions en plaaslike Rotary organisasies kan ook ‘n klop op die skouer kry sowel as die sakekamer wat byvoorbeeld op Mandela week vieringe ‘n verskil in ander se lewens maak.

Vir almal in Tzaneen met julle groot harte.

Saluut!

Exit mobile version