Editor's choiceLocal newsNews

Maande lange krisis by Gravelotte-myn op ‘n einde

Die bykans vier maande lange krisis wat sedert Januarie die mynbougemeenskap van die Consolidated Murchison-myn naby Phalaborwa op sy knieë gedwing het, het uiteindelik tot 'n einde gekom.

Die myn, wat in Februarie gelikwideer is, is intussen verkoop en talle van die werknemers is weer in hul poste aangestel.

Solidariteit Helpende Hand, ‘n organisasie deel van die Solidariteit Beweging, het sedert Januarie noodleniging na die gemeenskap gebring waar werknemers sedert 10 Februarie sonder inkomste gelaat is.

Dit het ernstige finansiële druk op werknemers en hul gesinne geplaas, maar danksy die hulp van nabygeleë Helpende Hand-takke in Phalaborwa en Tzaneen kon daar die afgelope vier maande in die families se mees basiese behoeftes voorsien word.

Volgens Marianthie van der Walt, Helpende Hand-streeksorganiseerder vir Limpopo, het die vrees bestaan dat die myn se likwidasie-proses, ‘n baie uitgerekte een sou wees. Sommige kenners meen dat dié tipe prosesse tot so lank as twee jaar kan duur, wat uiteindelik die maatskaplike druk op ‘n gemeenskap soveel groter maak.

“Die bystand wat Helpende Hand ten opsigte van skakeling vir mediese dienste, fasilitering met skole rakende die kinders se behoeftes, betaling van noodsaaklike uitgawes vir spesifiek die kinders, bystand ten opsigte van werksgeleenthede en die verspreiding van skenkings het ‘n reuseverskil in die gemeenskap se lewe gemaak,” verduidelik Van der Walt.

Sy hou vol dat die omliggende gemeenskappe Helpende Hand in hierdie tyd sterk gemaak het om die steun te kon bied.

“Dit was ‘n baie groot taak wat deur Helpende Hand se Tzaneen- en Phalaborwa-takke aangepak is. Dit sou egter nie naastenby soveel vrugte kon afwerp as dit nie was vir die ongelooflike bystand van die plaaslike gemeenskappe nie. Individue, boere, kerke, besighede, skole en mediese praktisyns het sonder skroom ingespring en grootskaalse hulp aangebied,” sê sy. “Vragte bederfbare en nie-bederfbare voedsel is aangery, finansiële bydraes is gemaak en vele vorme van hulp is onbaatsugtig beskikbaargestel.”

Van der Walt meen dat die samehorigheid van die omliggende gemeenskappe ongelooflik was. “Te danke aan hierdie gemeenskappe se liefde vir hul medemens, het ons nie vir ‘n enkele dag nodig gehad om oor honger magies te bekommer nie.

Ons kon mediese hulp bied waar nodig. Ons kon sorg dat elke kind skoolgaan sonder die las van vrees oor gebrek aan fondse. Helpende Hand bedank hiermee die gemeenskappe van Tzaneen en Phalaborwa opreg vir die onmeetbare verskil wat hulle in die lewens van die mense by ConsMurch gemaak het.”

Related Articles

Back to top button