Local newsLocal sportNewsSport

Letaba delf net-net die onderspit

LETABA se eerstespan het Saterdag ongelukkig voor 'n volgepakte veld ondersteuners, die onderspit gedelf teen Louis Trichardt met 16-15.

Die twee spanne het nou reeds twee keer teen mekaar gespeel.

Die vorige wedstryd 20-20 gelykop geëndig. Dit beklemtoon die klein verskil vanjaar in die liga.

Die spanne veg kliphard vir plek in die uitspeelrondes en dit veroorsaak dit dat daar klipharde rugby van hoë gehalte gespeel word.

Letaba se voorspelers was weer in ‘n verwoestende bui en het Louis Trichardt kruis en dwars oor die veld geskrum. Glen Mafumo, Marnus Labuschagne en Eben Fichardt het ook koning in die lynstane gekraai.

Die eerstehelfte het Letaba die oorhand gehad, maar sonder om verskonings aan te voer het Letaba met ‘n erg ontwrigde agterlyn gespeel en spelers moes ook uit posisie speel.

Dinge het dus nie heeltamal agter gevlot met al die balbesit nie.

In die tweedehelfte het Louis Trichardt met hulle groot voorspelers direk op Letaba se kleiner agterspelers begin afhardloop met die gevolg dat die harede kontak tol begin eis het en Louis Trichardt net-net die oorhand in die tweede helfte verkry het.

Letaba kon die wedstryd nog red met ‘n strafskop teen die einde van die wedstryd, maar die bal het ongelukkig links verby getrek.

Nieteenstaande die nederlaag is Letaba vol moed vir die volgende wedstryd aangesien die beseringspook die wyk begin neem en behoort ‘n veel sterker eerstespan die naweek op die veld te draf.

Die hele jaar nog is daar elke keer twee of drie agterlynspelers nie beskikbaar nie as gevolg van beserings.

Daarby het Pretoria Rugbyklub ook nou begin om puik Letaba rugbyspelers weg te lok met beloftes van groot geld.

Die realiteit is dat Letaba heelwat talent het, maar daar is nie werk vir die jong manne in die dorp nie en enige belofte van werk en geld lok hulle stad toe en dit ontwrig die klub.

Agtsteman, Quinton Kruger, het ‘n reuse wedstryd gespeel en hy is aangewys as speler van die wedstryd.

Hy is goed ondersteun deur JP Schwartz en Piccaso Coetzer.

Vir Letaba het G Mafumo en N Sibanda drieë gedruk. G Mafumo het vir die res van die punte met die skopskoen gesorg.

Letaba se tweedespan het ook net-net met 10-15 verloor teen Dendron wat vandie jaar nog onoorwonne is.

Letaba 2 het ‘n veel beter vertoning gelewer en gewys dat die span nou begin vorm kry en nieteenstaande verskeie ontwrigtings as gevolg van beserings, het die span vegtende onder gegaan.

Die flank, Wikus Steyn, wat die vorige naweek op senter moes uithelp, moes die naweek weer losskakel speel wat aandui hoe die beseringspook veral in die agterlyn Letaba rugbyklub uitgedun het.

Wally Denton Jnr het ook weer die stewels nader gesleep en ‘n stewige vertoning op binnesenter gelewer voordat, en weer eens ‘n besering aan ‘n agterspeler hom van die veld afgedwing het.

Op heelagter het Lenis van Rooyen beindruk met aanvallende spel en voorlangs het die flank, Jacques Griesel ‘n ysterwedstryd gespeel en is hy welverdien aangewys as speler van die wedstryd.

Hy is goed ondersteun deur die stut, Jacques Borcherds, wat ongelukkig na ‘n kraglopie die bal agter die doellyn verloor het.

Letaba se derdespan het Louis Trichardt se derdes dronk gehardloop en met 29-07 as oorwinnaars van die veld gestap. Speler van die wedstryd was heelagter, Carel O’Neill en het die skrumskakel, R Pieterse, ook die oog gevang met knap spel.

Die vleuel, Wentzel Geldenhuys, het sy teenstanders ook probleme gegee met kraglopies teen die kantlyn af.

Die volgende spelers het drieë gedruk vir Letaba se derdespan: W Geldenhuys (2), R Pieterse, C Malatji, Terblanche en het R Pieterse met 2 vervyfskoppe geslag.

Letaba speel hierdie naweek tuis met drie spanne teen Noordelikes.

Letaba nooi sy ondersteuners vriendelik uit om die spanne te gaan ondersteun.

Gaan geniet heerlike rugby, en ondersteun ons manne.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button