Editor's choiceLocal newsNews

Huis in puin na brand in motorhuis ontstaan

‘n Brand het Dinsdagaand na bewering in die motorhuis in Koorsboomstraat, Phalaborwa ontstaan en Pieter en Carina Junius se huis in puin gelaat.

Noodwerkers van die munisipaliteit, myne in die omgewing sowel as die lughawe se noodpersoneel het vir ure die brand bestry wat tot vroeg Woensdagoggend gewoed het.

Niemand is in die brand beseer nie, maar die egpaar se 15 jaar oue African Grey papagaai kon nie betyds gered word nie.

Pieter Junius ‘n ingenieur by PMC het vertel: “Ek was oppad werk toe en het op die brand afgekom in die motorhuis, daar was ‘n vol kan brandstof vir die kragopwekker en beide die voertuie was vol brandstof. Toe dit eers vlam vat, was daar nie keer nie.”

Voor noodwerkers omstreeks 11uur die aand opgedaag het, het die egpaar met ‘n tuinslang probeer om die brand onder beheer te bring, maar dit was tevergeefs.

Sy vrou Carina het verslae gesê: “Daar is niks oor nie, alles het gebrand, maar ons kon darem die gasbottels vir die kombuis ontkoppel en veilig maak voor die rook en vuur te erg geraak het, anders was dit dalk erger. Ek weet nie, maar my brein het net dof geraak, ek het nie eers gedink om my handsak te gryp nie, dit wat ek aan my lyf het is wat ek oor het.”

Die egpaar se worshond het ongedeerd uit die vuur gekom en een van die bure het na die hond omgesien terwyl noodwerkers besig was.

Die oorsaak van die vuur is nog nie bekend nie.

Related Articles

Back to top button