Tzaneen was Saterdag kragloos

Wat oorspronklik net beurtkrag moes wees vir Tzaneen Saterdagoggend het die kragvoorsiening in plaas daarvan totaal in duie gestort en was die hele omgewing sonder krag tot voor sonsonder.

Daar moes beurtkrag toegepas word Saterdagoggend vanaf die Tarentaalrand substasie.

Die tegnici wat dit moes toepas het snuf in die neus gekry toe daar stukke geknipte kabels gelê het by die substasie.

By nadere ondersoek is daar vasgestel dat beheerkabels van ongeveer 600m gesteel is.

Die diewe moes glo geweet het wat hulle doen.

Die diefstal het vermoedelik Vrydagnag gebeur.

Die krag moes onmiddellik as noodmaatreël afgesit word en die kabels moes vervang word.

Dit is hoofsaaklik Eskom kabels wat gesteel is en sal hulle nog tot die einde van die week aan die probleem werk.

Eskom en die GTM se personeel het om die uur gewerk om die krag te herstel.

‘Dit is ‘n wonderwerk dat die krag herstel was net voor sonsonder,’ sê Pierre van den Heever van die GTM.

Daar is oorspronklik ‘n SMS waarskuwing deur die GTM uitgereik wat inwoners ingelig het van die probleem en die krag sou vir twee dae, tot Sondagmiddag af wees.

‘n Inwoner vertel dat die bekende Sugarhill kort na die sms ‘n miernes was. Kerse was uitverkoop en persone het tou gestaan met hout en braaivleis pakkies.

‘Die algemene gevoel van die klante was rustig en grappies soos: ‘nou gaan ons braai’, was op almal se lippe.

Van den Heever het ook benadruk dat die gemeenskap saamgestaan en verstaan het.

‘Tzaneen se inwoners is wonderlik in sulke krisistye, ons is oorval met dankie en sterkte boodskappe,’ sê hy.

Die situasie is genormaliseer vir nou, maar daar sal nog vir die res van die week gewerk word aan die substasie.

Die bestuur van die Tzaneen se Sakekamer het hulle waardering teenoor die GTM uitgespreek vir hulle goeie kommunikasie na die onderbreking van die krag.

In besonder die burgermeester, Dikilede Mmetlle, Pierre van den Heever en ander senior personeellede.

Exit mobile version