‘Laat’ tender be-eindig belangrike SAVF diens

Dit is met groot hartseer dat die Die SAVF in Tzaneen Donderdag aangekondig het dat hulle hul vakkundige maatskaplike kantoor op 29 Mei 2015 na 78 jaar van diens aan Tzaneen, Modjajiskloof, Trichardtsdal, Haenertsburg en Letsitele sal moet sluit.

Die SAVF is die enigste Nie-Regerings-Organisasie in die hele area wat statutêre dienste lewer en oor die bevoegdheid  beskik om Kinderhofondersoeke, aannemings, pleegsorgplasings ens te doen.

Hierdie diens sal vanaf 1 Junie nie meer tot die beskikking van die plaaslike gemeenskap wees nie, weens ‘n strafmaatreël wat die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling toepas deur die SAVF se subsidie op te skort vanaf 1 April.

Soos ander Nie-Regerings-Organisasies moet die SAVF elke drie jaar tender vir dienslewering en die toestaan van staatsubsidie ten einde die professionele dienste te kan lewer.

November 2014 was die SAVF 30 minute laat met die indiending van die Besigheidsplan en die Departement het geweier om dit te aanvaar.

Bewerings word gemaak dat die SAVF nie getender het vir die diens nie, wat ‘n totale onwaarheid is.

Be-ëedigde verklarings is ingedien met bewyse dat die rekenaar en drukker die laaste twee dae voor indiening ingegee het en fakture met bewyse van tye van tegnici is aangeheg om die SAVF se pleidooi te staaf, maar na ses maande van talle pogings tot gesprekvoering en korrespondensie, was daar nog nie ‘n enkele woord vanaf die Departement nie.

Die SAVF se kontrak met die staat het dus 31 Maart  verval en is die kantoor dus reeds vanaf 1 April  sonder ‘n sent subsidie.

Op 30 April is vyf personeellede van die SAVF afgelê en almal werk dus Mei 2015 hul kennismaand waarna 190 statutêre lêers oorgeplaas sal word vir verdere dienslewering na die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling se kantore by die Tzaneen kliniek.

Die SAVF is ‘n Nie-Winsgewende-Organisasie wat jaarliks professionele dienste lewer aan 1 600 mense in die groter Tzaneen area, mense wat vanaf 1 Junie  na die Tzaneen kliniek verwys moet word, omdat die SAVF nie oor die fondse beskik om die personeel se salarisse te dra nie.

Die bedrag wat die staat elke drie maande bygedra het in die vorm van subsidie was R92 500, dit wil sê ‘n bedrag van R31 000 per maand waarmee vyf personeellede betaal is en alle oorhoofse kostes soos telefoon, kantoor, brandstof en skryfbehoeftes gedelg is.

Na  24 jaar groet die SAVF dr Greta Bekker wat voortaan nie meer in diens van die SAVF sal wees nie, maar sy sal haar privaat praktyk vestig en bedryf vir mense wat vir haar diens kan betaal.

Sy is op die mediese skema geregistreer. Dit is so hartseer dat behoeftige mense wat haar spesialiteitsdiens aan  spelterapie met getraumatiseerde kinders, assesserings en interaksionele analises, Kinderhof-ondersoek ens  so bitter nodig het, sonder ‘n diens gelaat gaan word en slegs mense wat vir die diens kan betaal, voortaan gehelp sal kan word.

Die SAVF in Tzaneen sluit nie algeheel hul deure nie, die SAVF Tzaneen Kleuterskool gaan voort met hul dienslewering, so ook die Diens van Barmhartigheid wat deur die vrywilligers gelewer word.  Die “Sakkie vir ‘n Pakkie” projek gaan voort so ook die “Hoededag”, Vroue-ontwikkelingsgroep, Kersboom-projek, skoolbenodighede aan behoeftige kinders ens.

Die SAVF vrywilligers gee aan 70 gesinne (250) persone kospakkies elke maand en hierdie diens gaan voort.

Volgens die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling is die staat en die Nie-Regerings-Organisasies in ‘n vennootskap, maar vennote praat immers met mekaar en poog om enige probleme die hoof te bied ten einde die gemeenskap te dien wat oor die konstitusionele reg beskik om maatskaplike dienste te ontvang, maar na ses maande word die SAVF steeds met volslae stilswye bejeen, vandaar die krisis-besluit.

‘Die SAVF se grondwet is op Bybelse beginsels gegrondves en daarom bly ons hoop op ‘n wonderwerk in terme van ‘n “reddingsboei” vanuit die gemeenskap.Indien nie, sal die maatskaplike kantoor finaal sy deure sluit op 29 Mei 2015,’  sê Erna Eloff, SAVF se provinsiale bestuurder.

Exit mobile version