Woede oor waterkrisis

'Ons is gatvol!' So voel een van talle inwoners van Modjadjiskloof nadat van die inwoners nou al bykans langer as drie weke sonder water sit.

Letaba Herald het die afgelope ruk verskeie klagtes van inwoners ontvang.

Nie net kan die Politsi waterplant nie voldoen aan die vereistes vir die omgewing nie, maar boonop het daar nog ‘n waterpyp ook gebars in Panorama.

Die water dilemma het op 2 April onder Letaba Herald se aandag gekom nadat Meisie van Dyk, ‘n inwoner van Modjadjiskloof ons kantore geskakel het.

Die Groter Letaba Munisipaliteit (GLM) het ‘n publieke kennisgewing aan inwoners uitgedeel waarin hulle ingelig is dat die Politsi waterplant nie aan die vereistes van Ga-Kgapane, Modjadjiskloof en omliggende omgewing kan voldoen nie.

In die kennisgewing is daar gevra dat inwoners water spaarsamig moet gebruik. Die water sal ook in die oggende van 04:00 tot 08:00 en in die aande van 17:00 tot 21:00 gesny word.

Wat Van Dyk egter dwars in die krop steek is dat watertenkers vol gemaak word, o.a by ‘n brandkraan op die hoek van Mentz- en Doreenstraat deur die munisipaliteit.

‘Jy moet sien hoe mors hulle water, en ons sit alreeds met ‘n water probleem, dit stroom hier in die straat af, verby die polisiekantoor tot in Bothastraat,’ vertel Van Dyk.

Sy vertel verder dat die water reeds die pad so glad gemaak het dat ‘n voetganger voor haar huis gegly het en haar knie en voet so seergemaak het, dat sy haar hospitaal toe moes neem.

Daar het ook glo ‘n waterpyp gebars in Panorama en sit van die inwoners in die bo-dorp al vir bykans langer as drie weke sonder water.

‘n Betroubare bron het aan Letaba Herald gesê die munisipaliteit het al die pyp herstel, maar dat dit intussen weer gebars het.

‘Niemand by die munisipaliteit kan vir ons antwoorde gee nie,’ vertel sy.

Die bron sê verder dat die betrokke persone wat antwoorde moet verskaf nie hulle telefone meer antwoord nie.

‘As ek water het is dit net so drup-drup en dit is pikswart.’

Sy sê dat die onderste gedeelte van die dorp wel bietjie water het.

Volgens haar het ‘n oud inwoner die munisipaliteit 20 jaar gelede gewaarsku dat die waterpype vervang en instand gehou moet word.

‘Ons moet of water gaan koop en kanne en kanne water in die aand gaan tap by brandkrane of by vriende wat wel bietjie water het.

‘Ons is gatvol en jy kan dit vir die munisipaliteit sê. Dit is deel van ons menseregte om water te hê, ons betaal immers belasting daarop,’ het sy woedend reageer.

Letaba Herald het Maandagoggend by herhaling probeer om by die regte persone antwoorde te kry, maar dit was vrugteloos, en telefone het onbeantwoord gebly.

Asof beurtkrag nie alreeds genoeg is nie, is die water dilemma in Modjadjiskloof onaanvaarbaar en word die inwoners ontneem van ‘n basiese noodsaaklike reg.

Lees die GLM se kommentaar deur die munisipale woordvoerder, Lovers Maenetji wat ons ontvang het, op bladsy 4…

Exit mobile version